MOSSELBAAI NUUS - 'n Hommeltuig wat snags oor gebiede rondom Mosselbaai vlieg, het verskeie inwoners en plaaseienaars bekommerd oor dié nagtelike vlugte.
Volgens Murray van der Merwe van die Brandwag-plaaswag, word die hommeltuig gereeld in die aande opgemerk en bestaan die moontlikheid dat dit professioneel aangewend word.
Die tuig het glo ligte wat sig in die nag vergemaklik en kan dit redelik lank in die lug bly.
"Die probleem is dat dit oor plase en woonbuurte vlieg sonder die nodige goedkeuring," sê Van der Merwe.
Hy sê indien die hommeltuig en sy vlieënier oor die nodige vaardigheid en toerusting beskik om snags te vlieg, hulle graag die persoon wil nader om die buurtwag van hulp te wees.
Van der Merwe sê dat die nagtelike vlugte nie krimineel van aard blyk te wees nie.
Daar is egter verskeie klagtes dat hommeltuie of eerder die vlieëniers daarvan, die publiek se privaatheid in ag moet neem.
Buiten die regulasies wat deur die burgerlugvaartowerheid neergelê is, moet privaat, asook kommersiële hommeltuigvlieëniers hul toerusting met omsigtigheid gebruik.
Die hommeltuigmark het die afgelope jare uit sy nate gebars. SA-burgerlugvaartowerheid (SACCA) tree as die reguleerder vir die gebruik van hommeltuie op. Die gebruik van hommeltuie lok egter baie positiewe, sowel as negatiewe kommentaar uit.
Hommeltuie kan goed ingespan word op verskeie maniere insluitend vir veiligheid, opsporings, brandbeheer, filmopnames, fotografie, videografie en ander kommersiële toepassings. Intenasionaal word dit selfs deur vissermanne aangewend om aas te versprei.
In 'n privaat hoedanigheid is lede van die publiek wat n hommeltuig besit, beperk tot die regulasies soos uiteengesit is in die RPAS (remotely piloted aircraft systems)-burgerlugvaartregulasies (deel 101) wat gewysig is om voorsiening te maak vir die nuwe tegnologie. Dit sluit radiobeheerde vliegtuie, helikopters en speelgoedvliegtuie uit.
Die groot faktor wat in ag geneem word is die veiligheid van kommersiële lugvaart, asook vliegtuie en helikopters wat in privaat besit is wat die lugruim gebruik. Indien 'n hommeltuig in die lugruim bots met enige vliegtuig of helikopter, of 'n lid van die publiek beseer, kan daar ernstige gevolge vir die vlieënier wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'