MOSSELBAAI NUUS - ‘n Gesin van Hersham bied ‘n R2 000 beloning aan vir die persoon wat hulle geliefde skaaphond, Buddy aan hulle sal terug besorg.
Buddy het op Woensdag, 29 September in die Groot-Brakrivier omgewing vermis geraak.
Sy eienaar, Bianca Maree sê Buddy is baie lief vir die see en hulle vermoed hy is dalk naby die strandgebied. Haar man, GJ sê hulle het vanoggend, op Dinsdag, 5 Oktober gehoor dat Buddy in die dorp gesien is maar hy is nog nie gevind nie.
Die gesin het ook intussen met die hulp van hommeltuie na Buddy begin soek.
“Buddy is ‘n baie goeie swemmer en hy is baie lief vir die see en vir kinders. Ons gesin is oorweldig deur die gemeenskap se omgee en hulp. Ek het seker al 100 telefoonoproepe gekry van mense wat na Buddy help soek.”
Die hond is twee jaar oud. Intussen vermoed GJ en Bianca dat ‘n foto van ‘n hond wat op rotse in die Tergniet gebied sit en lyk of hy weens die gety dalk vasgekeer is, moontlik Buddy kon wees. Die foto is die afgelope naweek op sosiale media versprei. Niemand kon egter bevestig wat van die betrokke hond geword het nie.
Hierdie foto van 'n hond op die rotse is die afgelope naweek op sosiale media versprei.
GJ sê hy het met lede van die NSRI gesels en volgens hulle sou Buddy uitgespoel het as hy dalk verdrink het. "Dit gee ons hoop dat Buddy nog lewe en dat ons ons geliefde hond sal terugvind." Enigeen wat Buddy sien kan vir GJ kontak by 081 449 0250.
GJ en Bianca Maree saam met Kapido en Buddy. Kapido soek heeltyd na haar Buddy.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'