MOSSELBAAI NUUS - Uitspraak is onlangs in die hoërhof in die Wes-Kaap voorbehou in die saak tussen die eienaar van 'n wooneenheid by Baydunes op Hartenbos en drie verweerders wat Baydunes Body Corporate insluit.
Die 26 bladsy lange uitspraak deur regter J Cloete verbied inwoners om hulle motorhuise vir enigiets anders as 'n parkeerplek vir 'n voertuig te benut.
Die eiser, Maretha Mineur, die aansoeker in die saak, het die Baydunes Body Corporate gedagvaar omdat sommige inwoners hulle motorhuise in ekstra slaapkamers of ander woonspasie omskep het. Sy sê dit het die gebruik van 'n motorhuis verander van 'n parkeerplek en sodoende parkeerplek op die erf verminder wat verdigting van mense en voertuie vermeerder het. Tans is Mineur, wat in Kimberley woon se wooneenheid die gesin se vakansiehuis, maar hulle beplan om daar af te tree.
Hofsaak
Mineur sê sy is genoodsaak om die drastiese stap te neem nadat sy besef het dat die omskepping van motorhuise vir ander gebruik as die van parkering by Baydunes aan die toeneem was.
"Ek was bekommerd omdat geen voldoende voorsiening vir parkering gemaak is nie. Die munisipale regulasies vir groepsbehuising (soos Baydunes) is dat daar twee parkeerplekke per wooneenheid moet wees, waarvan een die motorhuis is. Soos wat die oorspronklike kopers (soos ons) aftree-ouderdom bereik en permanent kom woon, sal die druk op die parkering toeneem. Mens wil ook nie alle groen areas in parkeerplek sien verander nie."
Sy sê sy wou dus hê dat 'n landmeter eers aangestel moet word om die parkeersituasie te ondersoek en dat die impak van die omskepping van al 73 motorhuise aan alleeneienaars duidelik gemaak moes word. "Dit sou almal dan die geleentheid gee om 'n ingeligte besluit te neem of so iets wenslik of haalbaar is by Baydunes. Drie-en-sewentig omskepte motorhuise plaas minstens 146 ekstra mense op die erf en minstens 73 motors. Die twee parkeerplekke per eenheid is reeds skraps.
"Aangesien aan inwoners voorgehou is dat alle motorhuise omskep sou kon word, wou ek ook seker maak dat die belofte wel waar gemaak kan word. Dit kon 'n kwessie word dat net diegene wat dit reeds sonder die nodige toestemming soos per die Deeltitelwet gedoen het, 'goedkeuring' kry. Ander eienaars mag later uitvind dat hulle met gebrekkige inligting hulle stem uitgebring het en dit self nie sal kan doen nie, weens 'n parkeerspasie-tekort."
73 eienaars
Mineur sê haar uitdruklike doelwit was dat almal 'n inset moet kan lewer soos deur die wet bepaal en almal geken moet word in die saak. "Ek kyk na die situasie in die toekoms, nie nou terwyl Baydunes hoofsaaklik 'n vakansieplek is met weing permanente inwoners nie."
Sy sê haar begrip van die Bestuursreëls in die Deeltitelwet, in haar studies daarvan, aangaande verandering van gebruik van motorhuise was dat "alle eienaars skriftelik moet toestemming gee daarvoor".
"Regsopinies deur my verkry by Paddocks Consulting en BBM Lawyers in Kaapstad, het met die siening ooreengestem. Die trustees het egter 'n ander regsopinie by Tertius Maree Associates gekry, wat 'n heelwat laer vlak van toestemming sou vereis. "Eenvoudig en rofweg gestel, ter voorbeeld, sou ongeveer 18 eienaars van Baydunes moes toestemming gee vir hierdie verandering van gebruik van motorhuise in 'n spesiale resolusie, instede van al 73 skriftelik."
Uitspraak
"Ten spyte van my volgehoue pogings het die trustees ongelukkig konsekwent geweier om met my in gesprek te tree oor die meningsverskil en was ek genoodsaak om die aangeleentheid na die CSOS te verwys vir dispuutresolusie. Dit was 'n uitgerekte proses, wat byna 'n jaar geneem het voordat dit uiteindelik voor 'n CSOS-ajudikator, adv Block, in George aangehoor is in Mei 2018. Sy uitspraak was sodanig dat my regspan van mening was dat ons genoodsaak is om dit op hersiening in die hooggeregshof te neem. Ons het nou gestaan voor 'n belangrike regsvraag ten opsigte van die vlak van toestemming van verandering van gebruik van garages, wat beantwoord moes word. Vir my was dit nie belangrik wie reg is nie, maar wat reg is."
Mineur sê sy voel regter Cloete het 'n helder en duidelike uitspraak gegee aangaande die interpretasie van die Bestuursreëls in die Deeltitelwet rondom die verandering van gebruik van 'n motorhuis vanaf 'n parkeerplek vir motors na 'n leefarea, in 'n deeltitelskema. Weens die groot impak op die gebruik en genieting van die gedeelde eiendom, moet alle eienaars daarvoor skriftelik toestemming gee.
"Die uitspraak is van belang vir alle deeltitelskemas in die land en sal trustees aandag moet begin gee aan die situasie in hulle skemas. Eienaars wat verontrief word en/of van parkering ontneem word weens hierdie situasie, kan nou verantwoording vereis." Mineur se aansoek was suksesvol en moet die verweerders haar regskoste betaal.
Die bestuursagent van Baydunes, StatusMark is genader vir kommentaar:
Please note that the Baydunes Body Corporate takes note of the High Court's judgment as handed down by Justice J.I. Cloete on 24 May 2019. The contents and limited application of the aforementioned judgment have been considered and will be communicated to all affected parties at the next annual general meeting.Further, the trustees will endeavour to resolve any issues pertaining to the parking bay requirements and those cases where building plans were not submitted to the municipality for approval prior to conversion. We accept our legal representative's advice and note that subject to the municipality's approval the court order does not compel home owners to have existing applicable conversions reversed.
'We bring you the latest Mossel Bay, Garden Route news'