MOSSELBAAI NUUS - Die kleuters van die Pniël Educare in Asla Park maak gewoonlik 'n groot storie van hulle Valentynsdagvieringe.
Wat vanjaar beslis nog meer besonders maak, is dat die sentrum na baie jare se gesukkel uiteindelik die skooljaar in hulle voltooide skoolgebou kon begin.
Die sentrum is tans volledig geregistreer en bied werk aan vier studente van die Suid-Kaap Kollege. Tagtig kinders ontvang tans sorg by die sentrum.
Pastoor Jennifer Saal, hoof van die skool beken dat dit 'n groot stryd was om die gebou te voltooi, veral om die dak op te sit. Storms, veral wind het ook die gebou verskeie kere beskadig.
"Nou, na al die jare se gewag en gehuil is die sentrum uiteindelik geseën met 'n dak. Dit was 'n stryd en daar was baie hartseer, maar mense moet sien dat God nog gebede beantwoord. Mense moet net moed hou."
Saal bedank al haar borge en ondersteuners wat die voltooiing van die gebou moontlik gemaak het.
Verlede jaar kon die skool ook hulle prysuitdeling in hulle nuwe skoolgebou vier.
Die voltooide gebou soos dit tans lyk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'