WES-KAAP NUUS - 'n Onrusbarende persentasie hoër- en laerskoolleerders wat by sommige skole in die provinsie getoets is, was onder die invloed van dwelms.
Dit is volgens 'n persverklaring wat verlede maand deur die Wes-Kaapse minister van opvoeding, Debbie Schäfer, uitgereik is.
Van die laerskole waar daar 'n suspisie van dwelmgebruik was, en waar leerders getoets is, is 63,6% positief getoets.
"Die hoof van 'n skool moet 'n redelike vermoede hê dat 'n leerder onder die invloed van dwelms is voor so 'n kind getoets kan word," verduidelik Jessica Shelver, mediawoordvoerder.
Gedurende die eerste helfte van die jaar is toetse in verskillende skole gedoen waar die vermoede ontstaan het dat leerders onder die invloed van onwettige middels is.
'n Totaal van 360 laerskoolleerders van 36 skole is getoets, waarvan 229 positief getoets is.
Uit 605 hoërskoolleerders van 17 skole was 415 positief getoets.
"Ek is geskok oor hierdie resultate," het Schäfer gesê.
"'n Veilige omgewing is belangrik vir leerders as ons wil verseker dat kwaliteit opvoeding gelewer word. Dit is noodsaaklik dat ons skole dwelmvry moet wees."
Dit is daarom nie ongewoon vir die departement van onderwys om die polisie te nader om leerders te visenteer as 'n sveiligheidsmaatreël en om hulle daarvan te weerhou om dwelms en/of gevaarlike wapens na die skool te bring nie.
Sy het bygevoeg dat ouers, die gemeenskap en leerders bewus moet wees van programme en bystand wat aan sulke leerders gebied word.
Indien 'n leerder positief vir alkohol of dwelms getoets word, moet 'n vergadering met die ouers gehou word sodat hy of sy die nagevolge daarvan verstaan.
Bystand
Die departement van onderwys het 'n direkte lyn (0800 45 46 47) wat leerders of hul ouers kan skakel vir bystand.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'