MOSSELBAAI NUUS - Sondag, 26 Mei was ‘n perfekte gholfdag met temperature wat in die hoog 20’s gedraai het. Met sulke somerweer in Mei was die opgewondenheid groot.
Talle inwoners van die Mosselbaai-gholflandgoed het daarna uitgesien om hul mede-inwoners op die baan aan te vat vir die jaarlikse interne gholfdag van die Mosselbaai-gholflandgoed.
Die gholfdag word deur die huiseienaarsvereniging (HEV) aangebied en daar word ernstig meegeding om die trofeë vir onderskeidelik die mansspeler, asook die vrouespeler van die jaar.
Daar is ook etlike ander kontantpryse wat deur die HEV geborg word. Hoewel daar ernstig gholf gespeel word, sluit die dag ook ‘n groot mate van plesier en ontspanning in die dag. Dit word baie goed deur inwoners ondersteun. Die gholfdag het vanjaar, ‘n maand later as gewoonlik plaasgevind as gevolg van die bouwerk by die gholfklub. Die opgradering by die klubhuis is nou voltooi en die “nuwe” klubfasiliteite is met groot vreugde in gebruik geneem.
Kuiermaand
Mei is gebruiklik ‘n baie gewilde kuiermaand in die noorde van die land. Wildtuine en familie word besoek en gevolglik kon heelwat inwoners nie aan die dag deelneem nie. Daar was nietemin 51 spelers en 59 inwonende gaste by die aand se prysuitdeling waartydens 'n besonderse driegang maaltyd voorgesit is.
Willem Roux, voorsitter van die HEV het die gaste verwelkom. Hy het ook van die geleentheid gebruik gemaak om ‘n paar van die sake waarmee die direkteure tans besig is, aan die inwoners te verduidelik. Dit het ingesluit die installering van ‘n veselnetwerk op die landgoed, die hofuitspraak oor eienaarskap van paaie in landgoedere en die samewerkingsooreenkoms tussen die gholfklub en die landgoed. Eienaars was veral baie opgewonde oor die feit dat hulle eersdaags die gerief van veselnetwerk kan geniet.
Martin Smith (direkteur: bemarking) en organiseerder van die dag, het die prysuitdeling waargeneem.
Uitslae
Die volgende persone is beloon vir goeie gholf:
Naaste aan die pen op 4de - dr Alwo Dercksen; 8ste - Willem Roux; 12de - Hilton Duminy; 15de - dr Johan Griesel.
Naaste aan pen vir twee mans (13de) Hilton Duminy; vir twee vroue (10de) Dawn Wessels.
Langste dryf mans (3de) Francois Borchardt; langste dryf vroue (18de) Marie Smith.
Die mansspelers van die jaar op individuele puntespel (IPS) is: 1. Hilton Duminy 40; 2. Stephen Powell 36 (uittel); 3. Bernard Liebenberg 36; 4. Sakkie Morrison 35; 5. Martin Smith 34 (uittel); 6. dr Nick van Noordwyk 34.
Die vrouespelers van die jaar ook op IPS is: 1. Catherine Bell 35; 2. Dawn Wessels 32 (uittel); 3. Magda Griesel 32.
Catherine Bell het natuurlik ‘n spesiale vermelding ontvang aangesien sy nou drie jaar opeenvolgend die trofee vir die vrouespeler van die jaar ontvang het.
Na die prysuitdeling het gaste aangesit vir die ete en daarna het inwoners tot laataand gesels oor die besonderse dag en die samesyn met mede inwoners geniet.
Daar word nou reeds gepraat oor die HEV se fondsinsamelingsgholfdag wat vanjaar op 1 Desember gaan plaasvind. Hierdie datum is baie spesiaal en alle belangstellendes moet nou reeds die datum aanteken. Vanjaar se begunstigde is Ons Huis-tehuis vir bejaardes in Mosselbaai.
Willem Roux (voorsitter HEV), Catherine Bell, Hilton Duminy en Martin Smith (direkteur, bemarking) en organiseerder van die gholfdag.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'