Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Gister, 18 Julie ook bekend as Mandeladag, het 'n groepie mense voor die kantore van die Mossel Bay Advertiser vergader om iets te ete te kry. Dit was dieselfde tyd en plek as die afgelope paar jaar. Behalwe vir een verskil. Dit was 'n Donderdag.
Sedert 2014, word daar op Maandae, Woensdae en Vrydae 'n broodnodige eetdingetjie uitgedeel by Kerkstraat 9, dansky 'n skenking van die OK Minimark in Marshstraat. Al het die onderneming intussen van eienaars verander, duur die ooreenkoms voort.
"Nie almal stem saam met wat ons hier doen nie, maar dis deel van ons sosiale verantwoordelikheid binne die gemeenskap.
Wat baat dit ons berig oor almal se welwillendheidsprojekte, soos onder meer sopkombuise en self doen ons niks?" verduidelik die redakteur van die Mossel Bay Advertiser, Suzette Herrer.
Herrer is die afgelope jare persoonlik verantwoordelik vir die uitdelery. Sy noem die groep haar "broodmanne" en hulle noem haar "mamma".
Die uitdelery is egter nie sonder teenstand gevestig nie, maar gelukkig het menslikheid tog 'n weg gebaan vir volgehoue welwillendheid en dus die projke se voortbestaan. Van tyd tot tyd word ander noodsaaklikhede, soos klerasie wanneer beskikbaar, ook uitgedeel.
"Dis 'n hegte groep wat self daarvoor sorg dat die elemente wat nie daar hoort nie, uitgewerk word. Daar word gehou by die reëls. Hier geld omgee, goeie maniere en mededeelsaamheid. Dit is waardes wat oor tyd gevestig is en die bedoeling is om dit so te hou," sluit Herrer af.
Oliver Twist-projek
Nege jaar gelede, het die Mossel Bay Advertiser se Oliver Twist gemeenskaps-projek sy beslag gekry. Die projek floreer op skenkings uit die gemeenskap en met sommige projekte, het kliënte betrokke geraak op 'n ruilhandelbasis waaruit wedersydse voordeel getrek is.
Vanjaar het 39 vroue, vanaf Riversdal tot in Groot-Brakrivier deel geword van 'n breiprojek. Mussies en ander gebreide items by die dosyne is gebrei en reeds versend na 'n kinderhospitaal in Kaapstad, Kansa, FAMSA, asook skole in Riversdal en George. Shirley Coetzee, voormalige bemarkingshoof van die Mossel Bay Advertiser, is tans die stukrag agter die Oliver Twist-projek.
Op 3 Augustus span die Mossel Bay Advertiser vir die vyfde jaar saam met ReedValley deur 'n fondsinsamelingsgeleentheid aan te bied ten bate van die Oliver Twist-projek. Lees meer hieroor op bladsy 8.
- Stuur foto's van jou Mandeladag-projek teen Maandag, 22 Julie aan cornelle@groupeditors.co.za
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'