MOSSELBAAI NUUS - 'n Onderhoud met die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Harry Levendal wat vandeesweek op Eden FM uitgesaai is, het groot reaksie op veral sosiale media ontlok.
Die onderhoud is op Woensdagoggend, 27 Oktober uitgesaai. Stasiebestuurder, Morné Petersen was die onderhoudvoerder.
In die onderhoud praat Levendal oor sy siekverlof en maak skerp uitlatings van kritiek teenoor die DA-koukus wat hy daarvan beskuldig dat hulle hom in hierdie tydperk as burgemeester ondergrawe het.
Waarnemende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé het in 'n ope brief aan Levendal die redes vir die koukus se optrede uiteengesit. Dit is op sosiale media versprei en as deel van die onderhoud uitgesaai.
In sy kommentaar sê die DA provinisiale voorsitter, Jaco Londt dat Levendal te alle tye met respek en empatie na 'n gesondheidsterugslag hanteer is.
"Die koukus het toegetree om seker te maak dat Mosselbaai die nommer 1 munisipaliteit in SA bly. Toe dit duidelik geword het dat raadsheer Levendal nie meer die tempo kon volhou nie, het die koukus hom versoek om van sy magte te delegeer, sodat dienslewering kon voortgaan en hy ten volle kon herstel sonder die druk van uitvoerende pligte."
Die Mosselbaai-munisipaliteit het by navraag gesê dat raadslede nie ingesluit is by die personeelkomponent van die munisipaliteit nie, maar onderworpe is aan die onderskeie politieke partye wat hulle in die raad verteenwoordig, se gesag.
"As die destydse burgemeesterskandidaat, het raadsheer Levendal die eerste posisie op die lys vir proporsionele raadslede beklee. Gevolglik kon die koukus, nadat hy die nodige en relevante verskonings aan die raad gebied het, die besluit neem om die gedelegeerde bevoegdhede verwant aan die burgemeesterspos aan die uitvoerende onderburgemeester, raadsheer Kotzé op te dra sodat kontinuïteit verseker kon word. Deur almal werklik harder te werk, het die koukus die leemte wat deur raadsheer Levendal gelaat is, gevul," sê waarnemende munisipale bestuurder, Colin Puren.
Puren het gesê dat Levendal nie van sy posisie as burgemeester afstand gedoen het nie.
"Hy is gereeld genooi na belangrike byeenkomste maar kon, weens sy verswakte gesondheid, nie al die uitnodigings aanvaar nie. Tot nog toe is geen bedankingsbrief van raadsheer Levendal ontvang nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'