HERBERTSDALE NUUS - As gevolg van aanhoudend toenemende geweld, wettelose onheil en misdaad in die landelike plaasdorpie Herbertsdale, het 'n klompie gemeenskapslede onlangs bymekaargekom en die Herbertsdale-buurtwag gestig.
Die verkose lede het daarna dadelik aan die werk gespring en kan hulle met trots sê dat misdaad in Herbertsdale volgens amptelike SAPD statistieke vir die jaar van Maart 2021 tot Maart 2022, daadwerklik verlaag het.
Lede van die buurtwag het met min hulpmiddels tot hul beskikking, hulleself bewys. Met hulp van besighede en inwoners op Herbertsdale, is die lede deur middel van borgskappe met gholfhemde, maskers en baadjies, alles met spesiale embleme op, voorsien. Elke lid is ook met 'n flitslig toegerus.
Hierdie toerusting kom alles uit 'n gemeenskap wat finansieel bygedra het om die buurtwag tot stand te bring.
As gevolg van Covid-19, die beperkinng op aalwynprodukte en meer, sukkel inwoners om kop bo water te hou en verarming is aan die orde van die dag.
Die Herbertsdale-buurtwag sê baie dankie aan elke persoon wat die buurtwag bystaan.
"Herbertsdale-buurtwag wil in besonder hulde bring aan Karel Saayman wat van dag een af saam met ons 'n groot verskil gemaak het en van wie ons moes afskeid neem weens siekte. Jy is nie meer saam met ons nie, maar word nooit vergeet," sê Gina Steyn, voorsitter van die Herbertsdale-buurtwag.
"Vir elke lid wat tot dusver, sonder versuim elke week, naweek in en naweek uit, lang dae en laat nagte op hul pos is om ons dorpie tot sy vreedsame self te herstel, sê ek baie dankie," sê Steyn.
"Aan een en almal in die Herbertsdale-gemeenskap wat 'n positiewe bydrae lewer en in besonder aan elke aktiewe buurtwaglid - baie dankie. Julle is 'n voorbeeld vir almal en 'n bewys dat, as 'n gemeenskap saamstaan, niks onmoontlik is nie," sê Steyn.
'Ons bring jou die nuutste Herbertsdale, Tuinroete nuus'