MOSSELBAAI NUUS - 'n Man in blou wat later ook in die bediening diep spore in die Suid-Kaap en SWD getrap het, is verlede Saterdag, 25 Julie na sy ewige tuiste.
Henry Kapp (68), voormalige biskop van die Ou Apostoliese Kerk, word deur kollegas van ander denominasies beskryf as 'n man van dissipline wat nie geskroom het om dit wat verkeerd was aan te spreek nie.
Kapp is in 1952 in die Knysna-omgewing gebore en sluit in 1974 as 18-jarige by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aan. Na sy opleiding in Bishop Lavis word hy in die eertydse Port Elizabeth ontplooi, waar hy by suksesvolle misdaadvoorkomings-operasies betrokke raak.
In 1976 trou hy met Lorraine en word in 1981 deur die Ou Apostoliese Kerk versoek om 'n gemeente in Knysna te vestig. Hier werk hy beide in die bediening en as polisieman.
"Dis nou eintlik waar die 'oorspronklike' benaming sersant Kappie Kapp vandaan kom," vertel sy seun, kommunikasiebeampte van die KwaNonqaba-polisie, ook sers Kappie Kapp.
In 1989 verhuis die gesin na Mosselbaai, waar Henry Kapp diens aan die Da Gamaskop-polisiestasie begin doen.
"Hier was hy nie net skofbevelvoerder nie, maar die mentor vir talle studente en jong polisiemanne wat vandag offisiere plaaslik en elders in die streek is," aldus sy seun Kappie.
In 1992 tree hy uit die polisiediens en spits hom voltyds op die bediening toe, as biskop in die Ou Apostoliese Kerk in die streek van Riversdal tot Plettenbergbaai, maar hy bedien ook in die res van die SWD.
"As 'n dinamiese mens en prediker, het my pa reeds voor 1994 'n aktiewe rol in transformasie gespeel en het hy hom beywer vir rassegelykheid. Maar sy lekkerste lekker was om paartjies in die huwelik te bevestig," vertel Kappie.
Hy laat sy eggenoot van 42 jaar, Lorraine, vyf kinders, 11 kleinkinders en een agterkleinkind agter.
"Ons glo sy werk sal welgedaan wees as ons aanhou om in sy voetspore te volg," sê Kappie.
Henry Kapp word Saterdag, 31 Julie om 11:00 vanuit die Ou Apostoliese Kerk in Broodboomstraat, Heiderand begrawe. Om 09:00 word 'n verbyrygedenkdiens vir hom gehou. "Die ontmoetingsplek vir die verbyrydiens sal op sosiale media geplaas word ter kennisname."
Wyle Henry Kapp
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'