Gallery
MOSSELBAAI NUUS - ‘n Groep vrywilligers van Mosselbaai was deel van die meer as 300 kongresgangers van 12 streke wat verlede week in Centurion die Helpende Hand-kongres bygewoon het.
Hulle was ook deel van die 120ste bestaansjaarvieringe van Solidariteit wat Saterdag en Sondag by die Voortrekker monument gevier is.
Gemeenskapsontwikkeling was hoog op die agenda aangesien daar nie op die staat gesteun kan word vir hulp en ondersteuning met die uitbou van kultuur of taal nie.
FOTOGALERY: Helpende Hand-kongres
”Ons moet self ons hande vuilmaak en ons eie heil uitwerk,” het Hannes Noeth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand gesê.
Die vrywilligers in die streke en takke is die organisasie se hande en voete in die gemeenskap. Die takke bestaan uit vrywilligers wat die nood van Afrikaners in hul gemeenskappe identifiseer en dit dan binne die raamwerk van Helpende Hand aanspreek.
Van die baie projekte wat landwyd uitgerol word, sluit die bemagtiging van ‘n kind, die skooltassieprojek, die HelpHetta-projek, droomrokke, die HelpJannie-projek, die seniors-in-aksie-projek, StopHonger, kosblikkieprojek, HelpJag en Tekkies & Toks in.
Daar is ook bykans 100 ONS Winkels waar skenkings gemaak kan word. Dit dra by tot ‘n volhoubare inkomste wat weer vir die studiefondse gebruik word.
Die Helpende Hand Studiefondssentrum administreer tans 220 studiefondse ter waarde van R238 miljoen waarmee reeds meer as 6 300 behoeftige studente se studies oor die laaste 11 jaar moontlik gemaak is.
In die Mosselbaai omgewing is daar drie takke, naamlik by Groot-Brakrivier, Heiderand en in Mosselbaai se middedorp.
Die kongres het uitgewys dat Solidariteit Helpende Hand lankal nie meer in hul babaskoene staan nie. Onder die Solidariteit-sambreel is daar 22 instellings wat almal daarop gemik is om die Afrikaner gemeenskap se omstandighede te verbeter. Helpende Hand is dan ook dié afdeling wat loodreg op die gemeenskap fokus.
Tydens die kongres is die navorsing wat gedurende 2021 deur Helpende Hand gedoen is, bekendgemaak en drie streke in die land is vergelyk. Hoewel daar klein verskille in data was, het almal dieselfde maatskaplike probleme.
Die probleme wat uitgewys is, is onder andere angs, depresiewe eensaamheid, drankmisbruik, dwelmmisbruik, pornografie en selfbesering. Onder die meer senior persone word eensaamheid as die nommer een uitdaging beskou. En dis hier waar ons almal kan hande vat en iets doen. Noeth het vertel hoe hy by ‘n tannie in ‘n aftreeoord gaan kuier het. Sy het die heeltyd gehuil en toe hy groet toe sê sy vir hom dat benewens die personeel hy die eerste buitegesig is wat sy in drie jaar sien. Dis hier waar ons almal kan help en betrokke raak. “Dit hoef jou niks te kos nie. Gaan kuier en gesels net. Dit gaan nie oor die cup cake of sjokolade wat jy saam neem nie, maar oor die gemeensaamheid en lekker gesels.
Mosselbaaiers kan gerus hul hand opsteek en betrokke raak by die lewendige en aktiewe Helpende Hand-tak.
Minete van Zyl is die plaaslike voorsitter en Marlise Labuschagne is die assistent streekverteenwoordiger van die Wes-Kaap. Kontak gerus vir Marlise (071 390 7766) of besoek die webtuiste by www. Helpendehand.co.za
Helpende Hand glo dat elkeen van ons ‘n ambassadeur van verandering is en dat ons ‘n integrale rol speel om ons eie gemeenskap te laat floreer. Dan vorm ons ‘n gemeenskap wat met hart en in krag saamstaan om hoop uit te dra. Daarom word in die krag van die gemeenskap, uit die gemeenskap, deur die gemeenskap en vir die gemeenskap geglo.
Die kongresgangers het Saterdag die graf van Paul Kruger asook sy huis, kerk en standbeeld op Kerkplein besoek.
Tydens ‘n kort aanbieding in die kerk het Noeth beklemtoon dat Kruger altyd ingestem het om grond aan ‘n gemeenskap oor te dra as hulle ‘n kerk wou bou. Daar was egter drie goed waarvoor hy nooit geswig of onderhandel het nie: sy identiteit, sy geloof en die vryheid van sy volk. “En dit is presies wat ons vandag identifiseer,” het Noeth bygevoeg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'