MOSSELBAAI NUUS - Duisende skoolgaande meisies se lewens kom elke maand vir ongeveer vyf dae tot stilstand, omdat hul huishoudings nie sanitêre ware kan bekostig nie.
Die #HelpHetta-projek versprei sanitêre ware en ander noodsaaklike higiëniese produkte aan hierdie meisies op 'n kwartaallikse basis.
Die projek is in 2015 deur Solidariteit Helpende Hand begin. Volgens Marelise van den Berg, is die projek daarop gemik sodat meisies nie vernederd voel nie, om hul waardigheid te beskerm en om te verseker dat hulle elke dag skool-, buitemuurse en sosiale aktiwiteite kan bywoon.
"Ons beskou persoonlike higiëne as 'n platform vir die bemagtiging van meisies". Volgens navorsing wat in 2020 gedoen is, het hulle bevind dat meisies nie net ondersteuning op 'n fisiese vlak benodig nie, maar ook op 'n holistiese vlak.
Die #HelpHetta-projek besoek skole en gee opleiding aan die meisies om kwessies soos verwerping, groepsdruk, selfverdediging en mishandeling te hanteer. Helpende Hand se span maatskaplike werkers bepaal die inhoud van die opleiding en ondersteun die meisies emosioneel en geestelik deur gereelde WhatsApp-boodskappe uit te stuur.
Meisies wat deel wil wees van die #HelpHetta-WhatsApp-uitsendingsgroep, kan 'n boodskap stuur na (076 530 9066).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'