TUINROETE | KAROO NUUS - Dit is ou nuus dat die Covid-19-pandemie en die staat van inperking 'n groot impak op skole en natuurlik, leerders gehad het.
Ook dat leerders sedert Maart 2020 slegs beperkte toegang tot onderrig en leiding gehad het, veral wat betref die neem van besluite oor hul toekoms. Solidariteit Jeug het 'n plan bekendgemaak om leerders met vak-, loopbaan- en beroepskeuses te help.
"Die pandemie het nie net die akademie ontwrig en leerders onder geweldige druk geplaas nie, maar ook die toegang tot ondersteuning wat hulle op skool ten opsigte van vak- en loopbaankeuse ontvang, ontwrig. Dié ondersteuning is 'n kardinale deel van elke kind se opvoeding," sê dr Juran van den Heever, hoof van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling.
Met die aanbreek van die derde vlaag het die instansie sy skaduwerkprogram vir matrieks na 'n aanlyn platform geskuif. Die reeks, Beroepstoer word daagliks om 17:00 op 'n geslote Facebook-groep uitgesaai.
Elke aand word 'n tema behandel, waar drie tot vier kenners binne daardie beroepe met leerders oor die spesifieke beroep gesels. Leerders en ouers kan vrae vra en meer inligting bekom. Volgens Solidariteit Jeug sal hy ook sy projek om matrieks in skaduwerkposte te plaas, hervat sodra Covid-19-regulasies verslap word.
Hierdie projek behels dat matriekleerders vir 'n dag of twee by werkgewers geplaas word om werklike beroepservaring op te doen.
Die instansie sal in Augustus sy projek om graad 8s en 9s op 'n soortgelyke wyse oor verskillende vakke in te lig, loods. Kenners sal elke aand vir weer twee weke lank die onderskeie vakgebiede bespreek en die leerders meer vertel oor watter deure die betrokke vakke vir hulle kan oopmaak, wie in die spesifieke vakke sou belangstel en wat dit behels.
Van den Heever moedig ouers aan om nie om alleen op hierdie skip te probeer vaar nie.
"Ons het die platforms, kenners, materiaal en stelsels beskikbaar om dit vir ouers en leerders baie makliker te maak. Saam kan ons die toekoms van ons kinders deur die drif trek. Dit word ook van ons verwag om dit te doen."
Solidariteit Jeug nooi enige leerder wat twyfel of onseker is oor hul loopbaankeuse, dr Juran van den Heever te kontak (072 025 2971).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'