MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit doen ‘n beroep op inwoners om te help om vullisstorting tot ‘n minimum te beperk.
Die munisipaliteit spandeer jaarliks tussen R25 miljoen en R30 miljoen om munisipale areas skoon te maak en onwettige vullisstorting op te ruim – geld wat soveel beter tot voordeel van ons gemeenskap aangewend kon word.
Ongelukkig, ondanks bewusmaking en opvoedingsprojekte kan die munisipaliteit skaars voorbly om onwettige vullisstorting hok te slaan.
Mosselbaai is een van weinig munisipaliteite wat steeds gratis sakke verskaf vir die veilige verwydering van vullis en doen ‘n dringende beroep op alle inwoners om hul deel te doen om die omgewing skoon en netjies te hou.
‘n Diensverskaffer en kontrakteurs doen uiters belangrike werk om openbare oop ruimtes en die klowe te probeer skoon hou, maar dit is ‘n feitlik onbegonne taak.
Hulp benodig
Inwoners word versoek om hul vullissakke die oggend waarop dit afgehaal word eers op die sypaadjie uit te sit. Dit sal bydra dat sakkrappers minder geredelik toegang tot die sakke het en veral nie snags in die strate drentel om deur sakke te snuffel vir oorskietkos of snuisterye wat verkoop kan word nie.
Groen afval soos grassnysels kan in die groen sakke wat verskaf word deur die kompakteerders afgehaal word, maar takke moet kleiner gesny en in bondels gemaak word sodat die kontrakteur dit kan verwyder. Waar moontlik, kan inwoners tuinafval gerus self by die oorlaaistasies aflaai.
Indien enige onwettige storting opgemerk word, word versoek dat inwoners dit dadelik sal rapporteer en, indien ‘n voertuig betroke is, ‘n foto waarop die registrasienommer duidelik is sal neem sodat verdere stappe teen die oortreders kan volg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'