Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Airedale-hond het Saterdagmiddag soek geraak nadat hy saam met sy eienaar in 'n motorongeluk net buite Mosselbaai betrokke was.
Volgens Derrick Guse, was hy en sy gesin vanaf Durbanville onderweg na Mosselbaai vir die vakansie en het die voorval hul planne heeltemal omvergegooi.
Derrick en hul dogter, Anke en seun, Edrich en een van die honde Benji, was saam met hom in die een voertuig waarmee hy 'n boot gesleep het.
Derrick se vrou, Stefnie en hul ander dogter Danielle het in hul ander motor gery. Saam met húlle was twee van hul honde.
By Robertson het Derrick teenspoed gekry met die boot se sleepwa-as en is Benji ook oorgelaai na Stefnie se motor. Stefnie, Danielle en die drie honde het intussen aangery na Mosselbaai. Om ongeveer 13:30, net verby die Engen-vulstasie op die N2 naby PetroSA, het Stefnie egter beheer oor die voertuig verloor. Dit het gelukkig nie gerol nie maar deur 'n stormwatersloot gery en teen 'n heining tot stilstand gekom. "Ek kan glad nie onthou wat gebeur het nie, maar ek moes seker aan die slaap geraak het," vertel Stefnie.
Motoriste het dadelik gestop om hulp te verleen. Terwyl een motoris die honde uitgehelp het, het Benji uit sy leiband geruk en van die ongelukstoneel weggehardloop in die rigting van die Rietvlei-plaas. Benji het agter in die voertuig gesit en het volgens Stefnie teen die voorruit te lande gekom. Stefnie en Danielle is na die hospitaal geneem met ligte beserings, meestal kneusplekke.
Kyk 'n video hieronder:
Soektog
Derrick, wat so twee ure lank met die herstelwerk van die sleepwa besig was en later in Mosselbaai aangekom het, het dadelik begin soek na Benji.
Die plaasgemeenskap in die omgewing, die Meyer- en Bouwer-gesinne, kampeerders van Mosselbaai-karavaanpark wat vriende van die Guse is, die Guse se Mosselbaai-familie, die Chamberlain-familie en die kinders Carl, Carla, Edrich, Danielle en Anke, het onverpoosd na Benji gesoek tot laat Saterdagaand.
Sondagoggend het hulle vroeg begin soek en teen laatmiddag Sondag het Derrick vir Kobus en Lizelle Crous van Mosselbaai Helikopters genader vir hulp en of hulle moontlik met die helikopter oor die area waar Benji weggeraak het, kan vlieg om te kyk of hulle hom vanuit die lug kan sien nie.
Een van die vlieëniers, André du Plessis is saam met DW du Plooy, Juan Drè du Plooy en Derrick in viersitplek Robinson R44 waarmee hulle die soektog aangekpak het. Dit was binne 15 minute nadat hulle opgestyg het dat Derrick vir Benji in 'n kloof naby die ongelukstoneel opgemerk het. Hulle het geland en Derrick afgelaai om Benji nader te lok. Benji was erg getraumatiseer en het bly weghardloop. Benji is egter kort daarna met sy "gesin" herenig toe Danielle, wat saam met 'n voertuig op die grond gesoek het, hom nader geroep het. Hy was baie dors, maar baie bly om sy mense te sien. Die Guse-gesin het hul dank uitgespreek teenoor elkeen wat gehelp het om Benji op te spoor.
DW du Plooy, Juan Drè du Plooy, Andrè du Plessis (vlieënier Mosselbaai Helikopters), Derrick Guse met Anke in sy arms en Edrich Guse hier by die Robinson R44 helikopter waarmee hulle Benji opgespoor het.
Die Toyota Yaris waarmee Stefnie, Danielle en die drie honde in die ongeluk betrokke was.
Danielle Guse hier saam met Benji net nadat hy opgespoor is.
Lees 'n vorige artikel: Airedale met helikopter gevind
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'