MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Heiderand wat posbusse by die Mosselbaai Mall het, het onthuts reageer op kennisgewings dat hierdie diens vandag, 15 Februarie opgeskort word.
"Daar het skielik oornag kennisgewings verskyn dat die posbusse gesluit gaan word en dat ons ons pos by die hoofposkantoor moet gaan haal. Dít, nadat ons in Januarie die jaartarief vir die huur van die posbusse moes betaal," berig 'n ontstelde inwoner. Hy sê verskeie posbusgebruikers is inwoners wat in woonkomplekse woon waar straataflewerings nie toegelaat word nie.
Heelwat is ook pensioenarisse vir wie die gebruik van die hoofposkantoor ongerieflik sal wees.
Die sentrumbestuurder van die Mosselbaai Mall, Jaco Karg sê dit was 'n besigheidsbesluit deur die eienaars van die sentrum om die poskantoor uiteindelik opdrag te gee om die perseel te ontruim.
"Die Poskantoor weet reeds sedert Junie 2018 van die sentrum se planne vir addisionele parkering en die area waar die posbusse tans is, is deel van daardie planne. Die poskantoor se huurkontrak het geruime tyd gelede verval en is op 'n maand-tot-maand-basis hanteer, ongeag die aansienlike agterstallige huur."
Karg sê daar is aanvanklik oorweeg om die posbusse elders in te rig, maar die koste daaraan verbonde was onregverdigbaar.
As planne vlot verloop, sal die addisionele parkering by die sentrum teen Paasnaweek gereed wees.
"Daar is 'n bewese behoefte aan parkering vir bejaardes en vir gestremde persone, asook vir die gewone inwoners wat die sentrum besoek."
Poskantoor reageer
Die Wes-Kaapse woordvoerder van die Poskantoor, Martie Gilchrest sê die bestaande posbusse sal afgebreek en by die hoofposkantoor in Marshstraat ingerig word. "Posbusgebruikers sal dus hul posbusnommer behou."
Gilchrest sê dit is moeilik om te voorspel hoe gou die posbusse verskuif sal kan word. Sy sê waar moontlik sal beskikbare posbusse by die hoofposkantoor intussen aan Heiderand-posbushouers beskikbaar gestel word. "Intussen kan posbushouers by die toonbank van die hoofposkantoor hul pos afhaal."
Sy het namens die Poskantoor verskoning aangebied vir die ongerief wat die verandering sal meebring.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'