MOSSELBAAI NUUS - Twee jong Mosselbaaiers se oplettendeheid en bereidheid om betrokke te raak, het gister daartoe gelei dat drie mans wat van die polisie probeer vlug het, aangekeer is.
Derick Pretorius vertel hy en sy broer, Josh, het omstreeks 12:00 om die Punt gery toe hulle drie verdagte mans sien hardloop.
Toe hulle by die parkeerarea onder die grot kom, het hulle 'n polisievoertuig en 'n voertuig met 'n ander provinsie se registrasienommer en oop deure opgemerk.
'n Enkele polisievrou was op hierdie toneel en hulle het onmiddellik besef dat die mans wat hulle sien hardloop het, waarskynlik van die polisie probeer ontvlug.
"Ons het een van die mans voorgekeer en iemand gevra om by hom te bly terwyl ons weer om die Punt gery het want dit is eenrigting verkeer.
"Die ander twee is naby die rotse waar die hengelaars altyd visvang opgemerk en voorgekeer en aan die polisielede oorhandig."
Die vermoede bestaan dat hierdie vier verdagtes met ander misdade wat deur die polisie ondersoek word, verbind kan word.
Die Mosselbaai-polisie het die vier verdagtes in hegtenis geneem.
Die vier mans is na wat verneem word almal buitelandse burgers.
Die polisie bedank die twee jong mans asook 'n derde man wat betrokke was vir hul bereidwilligheid om te help om misdaad in Mosselbaai te bekams.
Die betrokke polisielede word ook vir hul oplettendheid, fyn aanvoeling en vernuf wat daartoe gelei het dat die mans aangekeer is, bedank.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'