MOSSELBAAI NUUS - Suster Retha Nel, verpleegdiensbestuurder by Hartenrus-aftree-oord tree op 29 Maart af nadat sy sedert 1 Februarie 2000 by die oord begin werk het.
Sy het vir 19 jaar lank uitstekende diens aan ouer persone gelewer.
Retha is in Parow gebore, waarna sy in graad 3 (ou standard 1) saam met haar ouers na die Boland, eers Robertson en toe Wellington verhuis en daar skoolgegaan het. Sover sy kan onthou, vertel Retha, wou sy altyd 'n verpleegster word. Sy was begin 1972 een van die eerste studente-innames by die nuwe Tygerberg-hospitaal in Bellville. Meeste van haar opleiding in algemene verpleegkunde, verloskunde en gemeenskapsverpleegkunde, het sy oor 'n periode van agt jaar daar gedoen. Sy het ook opleiding in psigiatrie by Stikland-hospitaal op haar kerfstok.
In 1980, woon sy vir 'n paar maande in Mpumalanga (Koster) met die gedagte om daar verder te studeer. Die Kaap het egter gewen en is terug na Tygerberg. Hierna werk sy vir bykans nege jaar in gesinsbeplanning in die Kaapse Skiereiland. Toe pakkette aan 50plussers gebied is, het sy in 1998 na die Suid-Kaap verhuis waar sy vir nog twee jaar in gesinsbeplanning gewerk het. Heel toevallig, in September 1999, toe sy by die kunsmark koffie en tee verkoop het, bedien sy iemand wat vra of sy nie by 'n aftree-oord wil kom werk nie.
Hoogtepunt
Omdat sy glo "altyd baie van aksie gehou het", was dit seker die laaste veld waar sy haarself sou kon indink om te werk, maar op 1 Februarie 2000 begin sy werk by die Hartenrus-aftree-oord. Sy noem dat dit ongetwyfeld "die hoogtepunt van my loopbaan van bietjie meer as 46 jaar".
Retha het vir baie jare op die BAASK-bestuur gedien. Sy het 'n groot impak gemaak op verpleegkundiges en persone betrokke by aftree-oorde in die streek. In 2006 het 'n vyfjarige dogtertjie, Sharolise Retha se hart gesteel. Vandag is sy 'n pragtige 18-jarige jong vrou waarop enige moeder trots kan wees. Wat haar pad vorentoe betref, antwoord Retha: "Ek glo dat ons Vader 'n plan met my het. Om mee te begin vlieg ek 14 April na Spanje om die Camino vanaf Seville tot by Santiago de Compostela met 'n rugsak te gaan stap. Ek is is oortuig dat dit my sal voorberei vir wat ookal op my wag om te kom doen. Ongeag aftree-ouderdom is daar nog baie drome."
Hartenrus se uitvoerende komitee, inwoners en personeel gaan dié baie bekwame verpleegkundige, wat diep in die inwoners en personeel se harte gekruip het en nie geskroom het om die tweede myl te stap nie, baie mis maar wens haar net die beste toe vir die toekoms.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'