Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS en VIDEO - Sommige Hartenbosrivier-oewerbewoners het vandeesweek die stygende watervlak van die rivier met kommer dopgehou, veral omdat weervoorspellers verlede week aanvanklik 20mm reën vir die area voorspel het, maar tot soveel as 46mm reën in Mosselbaai gemeet is.
Die riviermonding, wat op 2 Julie ook deur die munisipaliteit oopgemaak is, het weer toegespoel en stygende watervlakke het die munisipaliteit genoop om vandeesweek nogmaals aansoek te doen om as noodmaatreël weer die riviermonding oop te maak.
"Die riviermonding vul wanneer die mond toespoel aangesien daagliks sowat 8 miljoen liter per dag gesuiwerde water in die riviermonding uitgelaat word. Boonop, wanneer dit reën, vloei stormwater in die rivier wat nie self kan deurbreek see toe nie. Hierbenewens is daar 'n invloei vanuit die opvangsgebied, hoewel gering. Daar is niks wat die munisipaliteit kan doen om te verhoed dat die riviermonding opvul wanneer die monding toegespoel word nie, behalwe om die monding deur te breek," verduidelik mnr Warren Manuel, die munisipale omgewingsbeampte.
Hoewel toestemming Dinsdagmiddag van die relevante staatsdepartemente bekom is om die riviermonding oop te maak, kon die beskikbare meganiese toerusting weens die inkomende gety nie veilig tot by die monding vorder nie.
Dit het egter nie die Mosselbaai munisipale bestuurder, 'n klompie raadslede, verteenwoordigers van die Hartenbosrivier Forum en S.M.A.R.T. gekeer om self in te spring om die riviermonding met grawe oop te maak nie. "Ons wil die meeste maak van die toestemming wat die munisipaliteit ontvang het, asook die inkomende gety en grawe daarom self 'n sloot sodat die water wat in die riviermonding opgedam het, hopelik kan deurbreek see toe. Dit is 'n tydelike oplossing. Die meganiese toerusting sal wel gebruik word om die monding, soos in die verlede, behoorlik oop te grawe," het die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee gesê. Dié inisiatief het wel 'n sigbare impak op riviervlakke gehad.
Kommer oor besoedeling
Benewens die stygende watervlak heers kommer steeds oor beweringe dat die water besoedel word deur riool wat daarin gestort word. Beide die Mosselbaai en Eden-distriksmunisipaliteite neem wel weekliks watermonsters wat aan 'n hele battery toetse onderwerp word, en tot nog toe het nie een van hierdie instansies laat blyk dat enige bewyse van erge waterbesoedeling bestaan nie, hoewel in die onlangse verlede wel weer dooie vis langs die rivier opgemerk is.
Die Mosselbaai-munisipaliteit se omgewingsbeampte het onlangs aangeraai dat die rioolputte en ander riooldreineringstelsels op eiendomme wat aan die rivier grens, aan onder meer kleurseltoetse onderwerp moet word om te verseker dat daar nie riool hierdeur in die rivierwater sypel nie. Die toetse is veral belangrik vir eiendomme wat nader as 200m aan die rivieroewer geleë is.
Hoewel oewerbewoners en geregistreerde belanghebbendes meen die oopmaak van die riviermonding het in die verlede die rivier se ekosisteem gebaat, maan hulle dat heersende toestande die natuurlike rivierlewe stadigaan laat uitsterf en dat dit deur indringerspesies vervang word.
Dit is veral kommerwekkend dat die rivier sedert Desember feitliks kwartaalliks meganies oopgemaak moet word, en omgewingsaktiviste meen die rivier word telkens nie diep genoeg, of op die regte trajek oopgemaak om die seewater kans te bied om dit deur natuurlike skuuraksie oop te hou nie.
Kommer oor die vrot reuk, die voorkoms van 'n muggieplaag al langs die rivier en afval in die rivierwater blyk steeds nie aangespreek te wees nie.
Kyk 'n video hieronder.
Lees 'n vorige artikel: Raadslede spring in om riviermond oop te maak
ARTIKEL en VIDEO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'