GROOT BRAKRIVIER NUUS - In die Gildenhuys-huishouding op Groot-Brakrivier is pa Hannes (45) behoorlik 'n haan onder die henne met vroulief Annalize, drie dogters, Anze (12), Emma (10) en Hanja (7) en selfs die gesin se hondjie wat almal Evas is.
Maar volgens sy dogters, kraai hy koning in hul huishouding en is hy die coolste en beste pappa ooit.
Die drie Gildenhuysies sê hulle pappa bederf hul baie met al die dinge wat hy saam met hulle aanpak. Daarom gaan hulle Sondag op Vadersdag vir hom 'n baie spesiale dag maak.
Hanja sê: "My pappa is 'n goeie visvanger en ek hou baie daarvan om saam met hom op die rotse te sit en visvang. Hy leer my van die see en hy sit die grillerige aas aan die visstok se hoek. Hy is die beste pappa ooit!"
Emma meen weer: "Ek is baie lief vir my pa. Ons gaan ry altyd saam fiets en veral om die sonsopkoms te kyk is ekstra spesiaal. My pa is die coolste pa en is baie fun!"
Anze het die laaste woord. "My pappa is die beste, hy het baie geduld en is baie liefdevol. Hy kan baie lekker vleisbraai en kosmaak. Eendag wil ek en hy nog 'n restaurant oopmaak. Ons almal is baie lief vir hom."
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'