MOSSELBAAI NUUS - Te oordeel aan 'n paar onlangse briewe ontvang deur die Mossel Bay Advertiser en verdere kommentaar op sosiale media, is lede van die gemeenskap op die randjie daarvan om onder mekaar in te klim oor blaffende honde.
Die klagtes is boonop nie net tot 'n spesifieke area beperk nie, maar blyk inwoners van verskeie buurte tot raserny te dryf.
Dit is te verstane dat 'n hond se onophoudelike gekef 'n stoornis kan wees wat tot so 'n mate van frustrasie mag lei, dat die aanhoorder moontlik uit radeloosheid kwaadwillig kan optree.
Daar is egter ander maniere om so 'n geskil by te lê.
Die Advertiser het 'n navraag oor die hantering van hierdie probleem binne die raamwerk van munisipale dienste gerig.
Die klaer moet 'n e-pos saamstel waarin die presiese adres en aard van die stoornis omskryf moet word. E-posse kan gestuur word aan admin@mosselbay.gov.za
Munisipale wetstoepassingsbeamptes sal dan die vermeende oortreder, dus die eienaar van die hond aanspreek en 'n skriftelike waarskuwing aan hom/haar uitreik. Hierop sal die persoon in kennis gestel word dat daar ‘n klagte oor die geraas van 'n hond of honde is.
Beamptes sal dan op drie verskillende dae en drie verskillende tye die perseel waaroor die klagte handel besoek. Die geraasoorlas word dan vir 15 minute per besoek gemonitor.
Indien daar bevind sou word dat daar 'n defnitiewe geraasoorlas is, kan die eienaar van die hond of honde 'n R1 000-boete ontvang. Indien daar nie ‘n geraas oorlas bevind word nie, word die klaer aanbeveel om ‘n beëdigde verklaring by SAPD oor die stoorrnis af te lê , wat dan by die kantoor van die munisipale wetstoepassingsafdeling ingehandig moet word. Hierop word die klag na die hof verwys aangesien die enigste persoon wat kan getuig dan die klaer self is.
Indien dít 'n omslagtige proses blyk te wees, is dit dalk beter om nie slapende honde wakker te maak nie en met 'n oop gemoed, goeie buurmanskap toe te pas.
Die Afrikaanse idioom stel dit so raak, met die hoed in die hand, kom 'n mens deur die land.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'