MOSSELBAAI NUUS - Die departement van vervoer en openbare werke (DVOW) wat verantwoordelik is vir die instandhouding van die Hamelkop-pad het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat hulle die padowerheid in beheer van afdelingspad 1587 (DR1587) is, terwyl die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (GRDM) verantwoordelik vir onderhoud van DR1587 via die agentskapsooreenkoms is.
Volgens die DVOW werk hulle binne 'n baie beperkte fiskale raamwerk en is daar geen planne in die medium termyn ekonomiese raamwerk vir opgraderings van DR1587 tot geteerde status nie.
Die GRDM volg 'n skraapskedule waarvan die frekwensie bepaal word vanuit 'n optimiseringsmodel. Dit beteken dat hulle die mees effektiewe manier vir die hantering van die bepaalde situasie en die gebruik van hulpbronne moet vind.
Volgens Werner Voigt, inwoner in die omgewing is die pad sowat twee weke gelede geskraap, maar intussen het dit weer versleg veral na die reën die afgelope naweek. Voigt sê dat op sekere plekke steek pype op die oppervlak uit en die skraper het reeds hiervan al raakgeskraap.
Nog 'n inwoner, Jolene Olivier sê sy het al telkemale met die GRDM gepraat, maar daar kom niks van nie. "Ons wil hê die pad moet weer gegruis word. Ons stel daagliks ons lewens in gevaar op daardie besige pad," sê Olivier. Volgens haar is hulle as inwoners al bedag op die gevare van die pad, maar dat ander padgebruikers nie die vernouings ken waar dit feitlik nie begaanbaar vir twee voertuie langs mekaar is nie. Boonop maak afgronde van bykans 15m dit baie gevaarlik.
Daar kan egter nie deur die GRDM 'n presiese datum aan die Advertiser gegee word wanneer die skrapings sal plaasvind nie, aangesien daar veranderlikes is wat nie voorsien kan word nie. Dit sluit die beskikbaarheid van die padskraper en/of operateur, sowel as moontlike onklaarraking van die skraper in.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'