MOSSELBAAI NUUS - Nie net staan Willem Laufs sowat ses voet in sy sokkies nie, maar sy groenmielies is klaablyklik ewe geseënd.
Laufs woeker in 'n lappie grond in Hillstraat naby sy woning van die afgelope 17 jaar.
Volgens 'n vriend, Tertius Kriek, het Laufs sukses met alles wat hy aanplant.
"Hy glo aan goeie bemesting, die mees natuurlike soort wat daar is. Alles organies. Hy bewerk die grond met bees- en skaapmis."
Kriek vertel dat Laufs ook toestemming gekry het om 'n tenk op te sit waaruit hy sy tuintjie water gee.
"Hy gebruik net tenkwater, nie munisipale water nie. Waaraan hy raak, groei met oorgawe. Hy het waarlik groen vingers."
Volgens Kriek, is Laufs 'n plaaskind van die distrik en wou graag gaan boer, maar dit was hom nie beskore nie.
Laufs is reeds dekades lank 'n haarkapper in die middedorp.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'