Update
MOSSELBAAI NUUS - As 'n vriendin van die 76-jarige Fanie Oosthuizen nie so op haar kop was nie, was die drie mans wat van sy moord aangekla is dalk nog op vrye voet.
Oosthuizen se liggaam is Saterdag, 15 Mei in sy woontstel in die Alikreukel-kompleks in Kaap de Goede-laan, Hartenbos ontdek.
Hy is in die badkamer gevind waar hy met 'n tou vasgebind was en hy vermoedelik aan hoofbeserings beswyk het. 'n Nadoodse ondersoekverslag het egter versmoring bevestig.
Drie mans, Jean-Pierre Coetzee (35), Reginald du Preez (31) en Emile Scheepers (27) het vandeesweek op Maandag, 17 Mei in die plaaslike landdroshof op 'n aanklag van moord en die besit van vermoedelik gesteelde goedere verskyn.
Hulle is steeds in aanhouding en verskyn weer op Maandag, 24 Mei in die hof om 'n borgtogaansoek te bring. Die vermoede bestaan dat van die beskuldigdes aan Oosthuizen bekend kon wees.
Vermis
Volgens inligting, was Oosthuizen en 'n vriendin daagliks in kontak. Toe sy Vrydag, 14 Mei op 'n kol niks van hom hoor nie, het sy na sy blyplek gery en na bewering mans met sy voertuig sien ry. Sy het die mans glo agternagesit en gekonfronteer. Hierna het sy Oosthuizen as vermis by die Da Gamaskop-polisie aangegee. Sy het ook 'n beskrywing van Oosthuizen se silwer Toyota Yaris gegee waarmee die verdagtes ontvlug het.
'n Besoek aan Oosthuizen se woning het egter in daardie stadium geen verdere leidrade opgelewer nie. Tydens patrolliediens, het sersante Stroh en Canda van die Da Gamaskop-polisie die vermiste voertuig met drie insittendes omstreeks 03:00 Saterdag, 15 Mei in die Hartenbos-omgewing opgemerk. Hulle het die voertuig gestop en toe die insittendes nie 'n verduideliking kon gee vir die goedere in hulle besit nie, is hulle in hegtenis geneem. Van Oosthuizen se eiendom is in die voertuig gevind.
Toegang tot Oosthuizen se woonstel is om 08:00 met behulp van 'n slotmaker verkry, waarna sy liggaam ontdek is.
Goeie hart
Volgens inligting het Oosthuizen hom graag oor sy medemens ontferm. Beweringe doen egter die ronde dat van die mense na wie hy uitgereik het, heemloses was. Die motief agter die naweek se voorval word egter nog ondersoek.
Die voorsitter van die Da Gamaskop-gemeenskapspolisieforum, Phillip Mattheus het egter in reaksie op die voorval gesê dat dit 'n algemene tendens is dat veral ouer mense hulle oor bedelaars en heemloses ontferm wat dan later 'n oorlas word. "Ons doen regtig 'n beroep op die gemeenskap om uit te reik deur middel van strukture en organisasies wat in welsynswerk spesialiseer."
Voorsitter van die Mosselbaai-GPF, Arthur Riordan beaam dit en voeg by: "Deur geld en kos aan bedelaars te gee versterk dikwels aggressiewe gedrag."
Die Mossel Bay Advertiser het verneem dat Oosthuizen se dogter die week in Hartenbos was en het met haar kontak gemaak. Nie sy óf Oosthuizen se vriendin wou egter met die media praat nie.
Voertuig
Die Da Gamaskop-polisie ondersoek 'n saak van moord en besit van gesteelde goedere. "Ons versoek die gemeenskap om ons van inligting te verskaf met betrekking tot die voertuig se bewegings, veral in die omgewing van Brandwag.
Volgens inligting het die oorledene nog om 11:30 met die voertuig gery en om 17:00, is een van die verdagtes met die voertuig gewaar," verduidelik die kommunikasiebeampte, kapt Wollie Fourie.
Enige persoon met inligting word versoek om sers Adele Binneman van die Da Gamaskop-polisie se speurdiens te kontak (044 606 2272).
Die Alirkeukel-woonkompleks in Kaap de Goede-laan, Hartenbos.
By Grace-ambulansdiens buite die woonstel waar hulle Oosthuizen dood verklaar het. Foto: Cornelle Carstens
Polisie op die toneel buite Alikreukel-woonkompleks.
Vorige artikel: Man found murdered in Hartenbos flat
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'