GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die Grootbrak sosiale jukskeiklub is die bymekaarkom plek vir goeie vriende waar daar in 'n ontspanne atmosfeer gekuier, goeie oefening gekry word en gesond gekompeteer word.
Dit is 'n sport wat sekere vaardighede vereis wat met oefening bemeester word en dit is waar dat elke speler wat deelneem op 'n dag die eerste keer aan 'n skei gevat het.
"Gedurende die inperking toe alles en almal tot stilstand gekom het is die geleentheid geskep vir twee lede om reuse opknappingswerk te doen aan die bestaande bane en het Allan Smuts en Gerrie Breedt agteroor gebuig om n puik terrein te skep," vertel Sarel du Plessis.
Die klub het 'n vreugdevolle geleentheid aangebied om die nuwe kompleks op Vrydag 13 November met 'n gesellige byeenkoms in te wei nadat aan al die inperkings-vereistes voldoen is. Daar is die oggend eers geoefen en daarna gesellig verkeer met 'n braai afsluiting.
"En met dit as motivering wil ons enige belangstellende persone nooi om hul hand aan die sport te kom waag. Dit is 'n relatief goedkoop sport met ledegeld slegs R100 elke ses maande," sê du Plessis.
"Ons ervaar dikwels dat lede wat aansluit die ondervinding gehad het van vroeër dae toe daar saam met hul ouers tog bietjie jukskei ondervinding opgedoen is."
Kontak gerus vir Sarel du Plessis 082 944 7074 / 044 696 6516, Tertius Viljoen 083 944 6104 / 044 696 6462 of Pieter le Roux 072 383 0498 / 044 620 2597.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'