MOSSELBAAI NUUS - Een van Mosselbaai se gewilde feeste, die Tarka Straatfees is tans in die spervuur. Die Mossel Bay Advertiser het verskillende partye hieroor gepols om agter die kap van die byl te kom.
Munisipaliteit reageer
Die Mosselbaai-munisipaliteit het die volgende verklaring uitgereik, by navraag uitgereik.
Op versoek van die gemeenskap is verskeie vergaderings met die mense van Tarka en die groter Uitbreiding 6 belê om oor die toekoms van die Tarka Straatfees te besin.
Dit het gevolg op verskeie klagtes wat die munisipaliteit na afloop van die laaste fees ontvang het en waarin beswaar gemaak is teen die opvatting dat dit ‘n “eenmanfees” was.
Aangesien die munisipaliteit die fees befonds is dit goedgedink om die insette van die inwoners van Tarka en omgewing te bekom en om oor die toekoms van die fees te besin.
‘n Vergadering het gevolg by die El Shaddai Baptiste Kerk in Tarka, omdat dit maklik bereikbaar is vir die teikengroepe.
Die gemeenskap was oor die vergaderings ingelig deur pamflette wat twee dae voor die vergaderings in Tarka en Uitbreiding 6 versprei is asook deur die deeglike gebruik van luidsprekeruitsendings op die dag van die vergadering – weer eens in Tarka en die groter Uitbreiding 6 met die boodskap duidelik dat daar ‘n gemeenskapsvergadering sou plaasvind rondom die toekoms van die Tarka Straatfees en dat die gemeenskap versoek word om dit by te woon sodat elkeen hul insette in hierdie verband kon gee.
Die eerste vergadering het op Maandag, 19 Augustus plaasgevind en is deur 44 mense bygewoon.
Die doel van hierdie vergadering was eerstens om vas te stel of die gemeenskap vanjaar ‘n Tarka Straatfees wil hê, waarop die meerderheid van die gemeenskap teenwoordig bevestigend geantwoord het.
Verder is vasgestel of die gemeenskap deel wil wees van die beplanning van die fees, waarop die meerderheid teenwoordig weer bevestigend geantwoord het.
Talle gemeenskapslede het tydens die vergadering hul misnoë, kommer, maar ook voorstelle gelug oor die toekoms van die fees. Met dít in gedagte, was dit die gevoel van die gemeenskap dat die verantwoordelikheid vir die feesreëlings en alles wat daarmee gepaard gaan te veel vir een persoon is. Daar is gevra dat ‘n feeskomitee, bestaande uit verteenwoordigers van die gemeenskap en met die ondersteuning van die Mosselbaai-munisipaliteit verkies moet word om die fees te beplan, organiseer en suksesvol te laat realiseer.
‘n Tweede vergadering het op Donderdag, 12 September weer in die El Shaddai Baptiste Kerk plaasgevind wat deur 39 mense bygewoon is. Die vergadering het ingelei met ‘n oorsig van die besluite van die vorige vergadering, waarna die doel van die vergadering – om die verkiesing van ‘n feeskomitee te fasiliteer - en die pad vorentoe bespreek is. ‘n Reeks voorstelle is gemaak oor die portefeuljes wat oorweeg kan word met die samestelling van die feeskomitee en die uitvoerende bestuurstuktuur van die komitee. Die gemeenskap is die geleentheid gegee om insette te lewer en verdere voorstelle te maak oor die samestelling van die komitee.
Teenstrydige menings is toe gelug oor die stig van ‘n feeskomitee. Een komponent van die vergadering was van mening dat ‘n komitee nie verkies moet word nie, terwyl die ander dit as noodsaaklik beskou het vir die voortbestaan van die fees.
As fasiliteerder van die proses het die munisipaliteit toe, om konsensus te bereik, die vergadering gevra of hulle wel ‘n fees met die ondersteuning van die munisipaliteit wil hê, alternatiewelik of ‘n fees sonder die ondersteuning van munisipaliteit moet voortgaan. Die meerderheid van dié teenwoordig by die vergadering het toe verkies dat die fees met die ondersteuning van die munisipaliteit moet voortgaan. Daarna het ‘n groep wat ten gunste was vir ‘n fees sonder die ondersteuning van die munisipaliteit hul misnoë te kenne gegee en die vergadering verlaat.
Die vergadering het voorgegaan en ‘n feeskomitee is suksesvol verkies. Die verkiesingsproses was deursigtig en vrywillig. Diegene wie teenwoordig was kan daarvan getuig.
Dit is herhaaldelik deur die munisipaliteit genoem dat niemand uit die gemeenskap uitgesluit moet word nie. Aangesien belastingbetalersgeld gebruik word om die fees te befonds was die munisipaliteit ‘n voortander van ‘n reëlingskomitee sodat die feesreëlings vlot kan verloop. Dit is van meet af duidelik gemaak dat die fees nie vir die finansiële gewin van enkeles aangewend kan word nie - dit is bedoel om ‘n gemeenskapsfees te wees vir die gemeenskap om te geniet.
“Dit het nou tot die munisipaliteit se aandag gekom dat daar heelwat onwaarhede op sosiale media oor die fees versprei word, onder meer dat die munisipaliteit die feesreëlings wil oorneem. Boonop word van die inskrywings oor die verloop van sake gemaak deur persone wat nie enige van die vergaderings bygewoon het of die feite ken nie.”
“Die munisipaliteit is ‘n voorstander van gemeenskapsbetrokkenheid en het deurgaans ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om meer betrokke te raak by die fees. Die vrees bestaan dat die onjuiste bewerings op sosiale media besig is om tweespalt in die Tarka-gemeenskap te saai. Hierdie tipe optrede word betreur. Dit sal hartseer wees indien die fees nie verder kan voortbestaan nie weens die valse bewerings van ‘n handjievol oningeligte mense,” het die munisipale woorvoerder, Colin Puren die munisipaliteit se verklaring afgesluit.
Ontstoke
Raadslid Dawid Kamfer, Icosa-leier en inwoner van Tarka is intussen gevra om by die bedat betrokke te raak en het deelgeneem aan ‘n gemeenskapsvergadering verlede Woensdag, 18 September.
“Onstoke inwoners gaan saam span om die Tarka Straatfees te red,” meen Kamfer. Volgens hom beweer die gemeenskap dat dit nou ‘n politieke speelbal geword het.
Na ‘n vergadering op 18 September met inwoners van Tarka was die gevoel dat inwoners diegene wat die “fees wil steel vir hulle eie gewin, in hulle spore gestop moet word”.
“Die Tarka Straatfees was soos manna en die hemel. Families en vriende wat deur die jaar nie bymekaarkom nie, gebruik hierdie geleentheid om saam te trek, en die jaar se roes af te skud, het Kamfer uitgebrei.
“Ek het dit sien kom en wou nooit betrokke raak nie, want wou nie dat mense moet dink is ‘n politieke ding nie. Maar ander mense het dan nou betrokke geraak, dus het ek het nou besluit, nadat ek deur talle mense genader is om betrokke te raak.”
“Ons jongmense in Tarka is elke jaar opgewonde oor die Tarka Straatfees en sal dit hartseer wees, om ‘n fees wat naam gemaak te laat doodgaan, oor selfsug oor mense se agendas,” het Kamfer ten slotte gesê.
Ope brief
James Malgas, stigter van die Tarka Straatfees, het verlede week ‘n ope brief aan die munisipale bestuurder gerig, waarin hy die Mosselbaai-munisipaliteit vra om hullelsef te distansieer van die fees.
Malgas het die brief hierna op 19 September op sy persoonlike facebookblad gelaai met die volgende inskrywing te verduideliking:
"Aangaande die Tarka Fees Debakel, ekt 'n opebrief aan die munisipale bestuurder gestuur waar ek die Munisipaliteit vra om hulself the distansieer. Ek het nie tyd vir politieke speletjies nie. Ekt kliphard gewerk om die fees tot stand te bring. Daardie komitee kan hulself nietig. Want die proses was onregverdig. Sodoende gaan ek nog altyd voort met die Tarka Straat Fees. En aan die Munisipaliteit hou ASB jul hande AF van die fees en laat ek rustig voortgaan met my werk in die gemeeskap en hou op na enkele lede van die gemeenskap luister.
Hier is die brief!"
Lees die volledige brief hier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'