Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Terwyl personeel en gaste op Maandag, 29 Julie die 60ste bestaansjaar van die huidige Mosselbaai provinsiale hospitaal gevier het, het dr Paul Rüschenbaum, die mediese bestuurder die goeie nuus van aansienlike opgradering aan die bestaande fasiliteit bekend gemaak.
"By die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal gee ons om (we care), ons behoort (we belong) en ons dien (we serve). Dit is ons motto.
Vanaf einde Augustus kan die publiek bouwerk en restourasie aan die hospitaal verwag aangesien daar afgesien is van planne om 'n nuwe hospitaal op Louis Fourieweg op te rig.
Toentertyd
Die provinsiale hospitaal was aanvanklik opgerig waar die Mosselbaai-munisipaliteit tans in Marshstraat is. Daardie jare het die sewe algemene praktisyns in die dorp ook die septer by die hospitaal geswaai. Dokter Friedl Weich, wat daar gepraktiseer het, het talle staaltjies gedeel van die uitnemende werksetiek van destyds.
Met dokters wat self X-strale geneem het, innoverend moes improviseer met selfs 'n handboortjie wat by 'n plaaslike hardewarewinkel aangeskaf is sodat sommige operasies suksesvol uitgevoer kon word, met toerusting soos die eerste EKG en defibrilator in die omgewing en 'n uitstekende onderlinge werksverhouding het die fasiliteit gou die reputasie opgebou as die beste hospitaal in die Suid-Kaap - 'n reputasie wat steeds jaloers beskerm word.
"Daardie jare was daar twee praktyke en sewe dokters in die dorp - en ons het nie mekaar se pasiënte gesteel nie," het dr Weich glimlaggend vertel. "Daar was nooit sprake van iets soos teatersepsis nie."
Spoke
Mosselbaai se uitvoerende onder-burgemeester, raadslid Dirk Kotzé het skertsend gesê munisipale amptenare werk nie graag snags baie laat in die munisipale kantore nie omdat daar gerugte van spoke is. Sr Tokkie Marx het gou vertel dat die gerugte waarskynlik waar mag wees, want daardie jare is afgestorwenes per mobiele draagbaar vanaf die hospitaal in Marshstraat na die lykshuis neffens die Mosselbaai-polisiestasie in Georgeweg vervoer.
Raadslid Kotzé het gesê die gemeenskap is veral trots op dié effektiewe hospitaal waar die kultuur en etiek meer werd is as wat die personeel vergoed kan word.
"Veral die ouer garde spandeer hul laaste dae in die hospitaal, en dit is gerusstellend om die omgee-kultuur en wonderlike werk wat die dokters, verpleegpersoneel en ondersteuningspersoneel lewer, raak te sien. Volgens projeksies sal Mosselbaai se inwonertal oor die volgende 20 jaar verdubbel, en is die nuus van opgraderings wat te wagte kan wees, baie welkom.
Opgradering
Dokter Rüschenbaum het gesê 'n begroting vir opgraderings ter waarde van R38 miljoen is reeds goedgekeur. Die kontrakteur is Ruwacon.
In 1956, met 'n bevolking van 24 000 het die hospitaal 19 beddens in die ou hospitaal gebied. Vandag, met 'n bevolking van sowat 100 000, slegs 90 beddens en 'n besetting van 1 111 persone per bed en 'n besettingssyfer van 90%, is die opgradering onontbeerlik. Daar word voorsiening gemaak om die aantal beddens uit te brei tot 120.
Planne vir die instandhouding, opknapping en opgradering sluit onder meer twee beddens in spesifiek vir pasiënte met geestesgesondheid. Sowat 130 vierkante meter sal in totaal by die noodeenheid gevoeg word en 'n buitegebou sal opgeknap en ingerig word vir die NHLS-laboratorium. 'n Nuwe ruimte sal geskep word vir die rehabilitasiespan van onder meer arbeidsterapeute in die afdeling vir buitepasiënte waar die tandartse vroeër gefunksioneer het.
"Die projek sal verder fokus op voldoening van brandbeheermaatreëls en verbeterde ventilasie, nuwe vloer, beligting en nuwe aluminiumvensters regdeur die hospitaal. Die elektriese en meganiese installasies sal opgegradeer word, soos onder meer toegangsbeheer, kringtelevisie en ander veiligheidsmaatreëls. Die verouderde kombuis sal opgeknap word. Ons beoog ook om die toegang tot die twee teaters op te gradeer en te verbeter. Die hospitaalgebou sal buite en binne geverf word. Die totale uitbreiding van die bestaande hospitaal sal 414 vierkante meter beslaan. Terselfdertyd beplan ons 'n nuwe noodsentrum, toegang tot die hospitaal en ontvangsarea, wat na verwagting sal volg sodra die huidige goedgekeurde projek voltooi is," het dr Rüschenbaum gesê.
Dokter Rüschenbaum het ook hulde gebring aan bestuurslui wat die huidige uitvoerende bestuur van die hospitaal voorafgegaan het.
Mosselbaai se hospitaal in die dae toe dit nog 'n pragtige ou klipgebou in Marshstraat was. Foto met vergunning van Carina Wiggel, voorsitter van die Mosselbaai Erfenisvereniging
Hospitaalraadslede, die uitvoerende hospitaalbestuur, oud-praktisyns wat destyds aan die stuur van sake by die Mossel-baai-hospitaal was, en munisipale raadslede was onder meer gaste van dr Paul Rüschenbaum, die huidige mediese be-stuurder tydens die 60-jarige bestaansvieringe van die provinsiale hospitaal. Foto's: Nickey le Roux
Huidige personeel van die Mosselbaai provinsiale hospitaal wat oor die jare heen in die hospitaal gebore is, saam met dr Paul Rüschenbaum.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'