MOSSELBAAI NUUS - Mossel Bay Advertiser se Oliver Twist-projek en ReedValley span weer kragte saam om deur welwillendheid die groter Mosselbaai-gemeenskap van diens te wees.
Vir die derde jaar gaan ReedValley 100% van die kaartjieverkope vir 'n swierige bal op 3 Augustus aan die Oliver Twist-gemeenskapsprojek skenk.
In oorleg met die organiseerders, is besluit om vanjaar dié geld aan te wend vir 'n uitkyktoring vir lewensredders wat jaarliks 'n onmisbare diens op strande in die omgewing lewer.
Mosselbaaiers kan solank begin beplan vir hierdie semi-formele byeenkoms in die unieke ligging en atmosfeer van ReedValley, waar 'n verwelkomingsdrankie 'n heerlike driegangmaaltyd en voortreflike musiek 'n veiling sal voorafgaan.
Beslis waarde vir geld, vir 'n goeie doel - 'n heerlike aandjie uit saam met vriende, familie of kollegas terwyl elke sent daarvan vir welwillendheid aangewend sal word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'