MOSSELBAAI NUUS - Tersia Marais, 'n voormalige vryskutjoernalis vir die Mossel Bay Advertiser, bekende fotograaf en ook 'n stigterslid van Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.), sê sy het lanklaas in haar lewe so goed gevoel. En dít na haar galblaas verlede week verwyder is.
Marais was een van die eerste pasiënte wat 'n nuwe mediese prosedure by die Mosselbaai provinsiale hospitaal ontvang het.
"Daar is verlede week vir die eerste keer in die provinsiale hospitaal 'n laparoskopiese cholesistektomie gedoen. Dit is wanneer die galblaas met behulp van 'n kamera verwyder word," verduidelik woordvoerder vir die departement van gesondheid, Nadia Ferreira.
'n Totaal van vier pasiënte het verlede Woensdag hierdie prosedure gehad.
Dr Christiaan Pretorius het as narkotiseur opgetree en drs Hugo Stark en Jonathan Hall van die George provinsiale hospitaal het die operasies kom doen.
Die prosedures is uitgevoer met die hulp van Renee Steyl van Storz laparoskopiese toerusting wat sommige toerusting verskaf.
Volgens Ferreira is laparoskopiese chirurgie die goue standaard vir hierdie operasie. Daar ook ander prosedures wat op hierdie manier gedoen kan word, soos byvoorbeeld sterilisasie.
"Die metode is by Mosselbaai-hospitaal uitgevoer om hierdie tipe operasie se moontlikheid by 'n distrikshospitaal te toets. Dit word gewoonlik op vlak 2 by streekshospitale gedoen, maar ons probeer egter dienste nader aan pasiënte bring. Daarom was dit noodsaaklik om die uitvoerbaarheid hier te toets."
Marais vertel dat sy die Woensdag in die hospitaal was vir die prosedure en Donderdag huis toe is.
"Ek loop met gemak. Dis awesome. Ek is mal oor hierdie nuwe prosedure andersins het ek met 'n lang sny gesit wat minstens drie weke sou neem voor ek weer normaal sou voel. Ek wil vir die hospitaal sê baie dankie - julle het my nuwe gesondheid gegee."
Tersia Marais verlede Woensdag, 16 Februarie voor die operasie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'