GROOT BRAKRIVIER NUUS - 'n Inwoner van Groot-Brakrivier, Sandra Jordaan (75) het vanjaar aan die oop, mededingende en onvoorspelbare Kaapstad-fietstoer van 109km, voorheen bekend as die Cape Argus-fietstoer deelgeneem en die vroue-afdeling vir fietsryers tussen die ouderdomsgroep van 75-79 jaar, gewen.
Ek ontmoet Sandra by haar huis op die Eiland, drie dae nadat haar medalje om haar nek gehang is. Ek merk teenoor haar op hoe goed sy lyk vir iemand wat Sondag vir 5 uur, 4 minute op 'n fiets was. Sy lag en sê: "Dit is seker oor die oefening."
Kaapstad-fietstoer
Sandra was eintlik 'n drawwer wat 10 Twee Oseane-marathons en drie keer die Comrades-marathon voltooi het. "Ja," sug sy, "ek mis die hardloop maar ek kan dit nie meer doen nie, so ek het begin fietsry vir oefening." Op die ouderdom van 61 jaar het sy vir die eerste keer op 'n oefenfiets geklim en sedertdien nog nooit weer teruggekyk nie. Boonop oefen sy net in die Groot-Brakrivier-omgewing in wat sy laggend noem: "Ek 'hoender' hier om die dorp."
Oor fietsry is sy egter nou net so passievol. "Fietsry is sagter op jou lyf. Ek het in Durbanville, toe ons daar gewoon het begin en sommer so tussen die huise gery. Ek het besef ek kan oefen sonder om byvoorbeeld vanaf Groot Brak na George te moet ry of vanaf Groot Brak na Mosselbaai."
Haar eerste Argus het sy in 2007 voltooi. Die fietsrygogga het behoorlik gebyt en sy het daarna elke jaar deelgeneem. In 2009 en 2014 het sy in haar ouderdomsgroep gewen en wraggies vanjaar weer.
"Kyk, dit was moeilik. Die wind het verskriklik gewaai en in Simonstad het dit ons teen 47km per uur getref. In my ouderdomsgroep ry ons nie in bondels nie omdat ons te min fietsryers is. Dit is voordelig in dié sin dat dit jou valrisiko verminder, maar ook nadelig omdat jy nie vir die wind kan wegkruip nie."
Sport in haar bloed
Vanjaar het haar seun ook weer eens vir die Kaapstad-fietstoer ingeskryf maar nie daarvoor geoefen nie. "Hy het teruggeval uit sy groep en besluit toe sommer om saam met my te ry, sommer vir die fun. Ons het saam Suikerbekkie se stewige bult so gesels-gesels uitgetrap en voor ek weer kon sien was ons bo."
Sandra het nie aan die fietstoer deelgeneem om te wen nie. Inteendeel, haar leuse is om altyd te onthou waarvoor jy dáár is. "Ek het vanjaar glad nie verwag om te wen nie. Ek het nie eens daaraan gedink nie. Ek het gaan ry omdat ek fietsry. Wen is nie vir my waaroor dit gaan nie. Ek ry dit omdat ek fietsry, nie andersom nie en dit is ook die enigste kompetisie waaraan ek deelneem."
Vir 'n vrou wat uit 'n huis kom waar sport gelees, geslaap en geëet is en daarna as LO-onderwyser skoolgehou het, kom sport vanself. "Ek oefen regdeur die jaar omdat dit 'n lewensstyl is. In die winter ry ek een of twee keer 'n week fiets en ek speel drie keer 'n week gholf. Ek het 'n trainer by die huis wat ek kan opslaan, my fiets bo-op sit en dan oefen ek sommer voor die televisie as die weer sleg is. Teen September en Oktober bou ek my afstande op en 'n medefietsryer Piet Snyman ry die langafstande saam met my."
Sandra warm om die dorp op en doen bultoefening op die ou pad na die lughawe. "Ek ry net in die omgewing en ek as vrou wat alleen ry voel veilig. Soms ry ek Glentana toe en as ek meer kilometers wil opsit doen ek add-ons en ry 'n stuk uit na Wolwedans of sommer na Suiderkruis. Ek ry nêrens verder as ongeveer 10km van my huis af nie."
Haar geheim op die ouderdom van 75 is om 'n plan te hê wat werk en sy leef volgens die gesegde: Remember if you stop cycling because you are old, you will become old because you stopped cycling.
"Dit geld vir enigiets in die lewe, of jy nou stap of draf. As ouderdom 'n skeidingsmuur vir jou gaan word, gaan jy net nog ouer word. Ek sukkel in die winter met arthritis maar as ek fietsry is die pyn minder. Om te oefen is 'n lewenskultuur."
Sandra se man, Johan Heyl ondersteun haar ten volle. "Op die oggend van die wegspring vat hy sommer sy fiets ook dan ry hy daar rond en wag vir my by die eindstreep."
En wanneer klim sy weer terug op haar fiets? Sy lag. "Sommer volgende week weer."
Sandra tydens die vorige fietstoer in aksie.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'