Video
MOSSELBAAI NUUS - Die 16-jarige Maja Snyman van Groot-Brakrivier vlieg op 22 Julie na Johannesburg onderweg na Los Angeles waar sy aan die Wêreldbyeenkoms vir Uitvoerende Kunste (WCOPA) sal deelneem, wat van 28 Julie tot 6 Augustus plaasvind.
Snyman was die algehele wenner by die Suid-Afrikaanse byeenkoms vir Uitvoerende Kunste (SACOPA) en deel van haar prys is dat haar reis- en verblyfkoste vir die WCOPA betaal word.
Wenners van 'n goue medalje by die SACOPA moet nog steeds groot onkostes aangaan as hulle as lede van die SA-span na Los Angeles wil reis. Slegs die algehele wenner se kostes word gedek.
Maja is 'n leerder by McKinlay Reid Internasionale Akademie op George, waar kinders die Cambridge sillabus voltooi.
By WCOPA gaan Maja vyf viool-items, een klavier- en twee sang-items lewer.
Maja sê: "Ek sal in die afdeling vir seniors deelneem. Dit is van ouderdom 16 jaar en ouer en sluit volwassenes in. Dit sal my eerste besoek aan LA wees. Die verste wat ek al oor die water gevlieg het, was na Mauritius.
"Ek is taamlik gespanne omdat ek nie weet wat om te verwag nie. Deelnemers van 60 verskillende lande sal in aksie wees. Ek weet daar sal druk op my wees omdat ek SA verteenwoordig. Ek oefen reeds die laaste vyf maande vir dié kompetitsie. Ek wil mense inspireer en meer blootstel aan musikale instrumente en wys dat musiek nie noodwendig klassiek hoef te wees nie," het sy gesê.
Maja speel baie van Verenigste State vioolspeler Lindsey Stirling se musiek.
"Ek staan op terwyl ek klavier speel, skud my hare en gaan te kere. Ek wil mense wys instrumentale musiek is underrated. Ek hou baie van rock-musiek," het sy gesê.
Omdat soveel verskillende lande in aksie is, sal Maja baie stamina moet hê. Daar sal van vroeg in die oggende tot 01:00 elke dag opgetree word.
VERSKAFDE VIDEO - Maja Snyman se optrede by SACOPA
Maja Snyman
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’