MOSSELBAAI NUUS - Twee nuusartikels wat vandeesweek aanlyn verskyn het aangaande die impak wat die skynbaar steeds onkeerbare grondverskuiwing op huise in die Seemeeupark- en Seemeeuvlug-ontwikkeling het, het opnuut opslae gemaak.
Hierin word die stelling gemaak dat 'n verdere 20 eiendomme in die ontwikkeling ontruim moet word vanweë grondverskuiwing.
In 2016 is die ontruiming van nege huise in die ontwikkeling genoodsaak.
Onafhanklike verslag
In beide die nuusartikels word verwys na 'n verslag wat deur kenners saamgestel is, waaronder prof Louis van Rooy, 'n ingenieursgeoloog verbonde aan die Univerisiteit van Pretoria. Die verslag is glo aan die Nasionale Huisbouersregistrasieraad (NHBRC) gestuur.
Van Rooy maak in die verslag die aanbeveling dat oorblywende eiendomme in die ontwikkeling ontruim moet word. Hy sê ook dat, gebaseer op die gegewe geskiedkundige inligting beskikbaar en op grond van huidige sigbare waarnemings, dit duidelik is dat die hellingstruktuur misluk het. Van Rooy meen dat die hellingbeweging voortduur en dat dit sigbaar is in die grondoppervlak en krake in stutmure. Hy sê wel dat dit relatiewe waarnemings is, aangesien daar nie 'n spesifieke observasiebasis gevestig is om die werklike hellingbeweging te monitor nie.
Munisipaliteit
Tydens 'n raadsvergadering van die Mosselbaai-munisipaliteit op 29 September, is 'n geotegniese verslag aanvaar wat dit stel dat die grondverskuiwing in die woongebied noemenswaardig afgeneem en marginaal gestabiliseer het. Verdere monitering is terselfdertyd goedgekeur, sou buite-seisoenale reën (60-100mm) oor 'n periode van vyf dae gemeet word. Die Mossel Bay Advertiser het hierdie inligting bekom vóór die aanlynartikels op Dinsdag, 1 Oktober gepubliseer is.
Met kennisname van die aanlynartikels, het die Advertiser verdere navrae aan die munisipaliteit gerig. Die munisipaliteit het erken dat hulle bewus van die berigte is en dat hulle na verskeie pogings om die verslag waarna daarin verwys word te bekom, nog nie kon slaag nie.
Die munisipaliteit het bevestig dat die grondverskuiwing in die woongebied op 'n voortdurende basis gemonitor word deur geotegniese ingenieurs wat deur die munisipaliteit aangestel is. Op grond hiervan dra hulle nie kennis van verdere eiendomme wat tans ontruim moet word nie.
Die munisipaliteit het die publiek genooi om hulle te nader vir inligting of kommentaar (044 606 5000).
Huiseienaars
'n Woordvoerder van die huiseienaars-komitee het by navraag gesê dat sy ook nie van die verslag se uitslag bewus was totdat sy aanlyn daarvan gelees het nie. Sy sê dat die grondverskuiwing sedert 2016 verskeie onafhanklike kundiges gelok het wat geïnteresseerd is in die verskynsel. Volgens haar waardeer die huiseienaars, as leke wat geologie betref, enige kundige kommentaar wat sinvol tot die oplossing van hulle probleem kan bydra.
Die woordvoerder het bevestig dat sy gereeld oproepe van huiseienaars ontvang waarin hulle verskynsels aanmeld wat verband hou met die voortdurende grondverskuiwing. "Ons kyk elke dag hierin vas en ons weet nie wat volgende gaan gebeur nie. Ons wil net nie meer in vrees lewe nie. Ons wil net vergoed word vir wat ons verloor het."
- 'n Groep huiseienaars het 'n eis van vergoeding vir R200 miljoen teen die owerhede, waaronder ook die Mosselbaai-munisipaliteit ingestel. Die groep se regsverteenwoordiger is vir kommentaar genader, maar kon teen druktyd nie bereik word nie.
Die ontwikkeling waar nege huise ontruim is.
Die impak van die grondverskuiwings.
Die impak wat die skynbaar steeds onkeerbare grondverskuiwing op huise in die Seemeeupark- en Seemeeuvlug-ontwikkeling het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'