TUINROETE NUUS - Dit is 'n klassieke geval van wolf-wolf skree. Só sê die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt Malcolm Pojie, ná die 51-jarige Retha Horn, wat in September beweer het sy is deur drie mans in polisiedrag verkrag op Vrydag, 9 November by haar huis in Blanco in hegtenis geneem is.
Volgens haar was sy onderweg vanaf Glentana na George toe die beweerde verkragting in die Hoogekraal-omgewing plaasgevind het.
Ernstige bewerings van 'n groepsverkragting wat deur haar aangemeld is, is volgens die polisie onwaar.
Horn het beweer vier mans met klapmusse, wat hulself glo as polisiemanne voorgedoen het, het haar deur die nag aangehou, bedwelm en verkrag nadat hulle haar omstreeks 19:00 op die R102 tussen Mosselbaai en George afgetrek het.
Sy is op aanklagte van bedrog, myneed en regsverydeling in hegtenis geneem. Sy het Maandag, 12 November in die George-landdroshof verskyn en is op borgtog van R2 000 vrygelaat. Die saak is uitgestel tot 18 Januarie vir verdere ondersoek.
Pojie het by navraag gesê hulle is bly dat die reg nou sy gang kan gaan.
"Uiteraard is dit vir ons absolute prioriteit om korrupsie en misdaad binne ons eie geledere hok te slaan.
In lyn met nie net die polisie se nasionale strategie nie, maar ook dié van die regering, is baie hulpbronne ingespan om die beweringe wat deur Horn aangemeld is op te volg. Selfs spesialiseenhede is geaktiveer," sê Pojie.
Volgens Pojie het hulpbronne wat aangewend is om die vals beweringe op te volg dienslewering aan wetsgehoorsame burgers beïnvloed.
"Boonop het dit 'n negatiewe impak op die polisie se beeld gehad. Die gemeenskap moet onthou die polisie verrig 'n noodsaaklike diens.
Ons reaksietyd op klagtes is vir ons van kardinale belang. Hoewel ons die persepsies met die bewering dat polisiemanne by 'n verkragting betrokke was kan weerlê, kleef daardie persepsies in die gemeenskap se gedagtes vas.
Dit bemoeilik die vertrouensverhouding tussen die gemeenskap en polisielede, dit bemoeilik ook gemeenskapspolisiëring en nuwe projekte wat ons binne ons gemeenskappe wil aanpak.
"Ons is oortuig daarvan dat ons genoeg bewysstukke bekom het om 'n prima facie-saak teen die beskuldigde te maak."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'