MOSSELBAAI NUUS - Die langverwagte opgradering van Louis Fourieweg is nog 'n stappie nader. Die goeie nuus is dat die provinsiale LUR vir vervoer en openbare werke, minister Bonginkosi Madikizela, per skrif bevestig dat die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke in komende 2021/22 boekjaar fondse bewillig het vir die opgradering van Louis Fourieweg, Fase 2.
Louis Fourieweg is 'n provinsiale pad en die Mosselbaai-munisipaliteit het verneem dat die tender vir werk aan die opgradering van die pad binnekort gepubliseer sal word.
Die munisipaliteit het dan ook reeds die provinsiale owerheid versoek dat plaaslike arbeid, waar moontlik, 'n belangrike komponent van die ontwikkeling moet wees.
Indien alles volgens plan verloop, sal die tender-advertensie in April gepubliseer word en kan verwag word 'n suksesvolle tenderaar se aanstelling teen ongeveer Oktober sal geskied.
Drie jaar
Die fase twee-opgradering sal na raming ongeveer drie jaar duur, afhangende van die suksesvolle kontrakteur.
Die gros van die verbeteringe behels die herbelyning en verbreding van Louis Fourieweg tussen Boland Park en Garret Straat, waar die meeste van die bottelnek-opeenhopings deurentyd voorkom. Hierdie trajek sal ook die langste neem om voltooi te word, met heelwat van die ondergrondse en ander dienste wat verskuif moet word, asook onteienings wat moet plaasvind.
Die fase twee-projek sluit ook in 'n 40mm asfalt-deklaag in vanaf Marshstraat tot by Hartenbos, terwyl vir verbeterde voetgangerverkeer in die Sonskynvallei-omgewing voorsiening gemaak sal word deur 'n loopstrook aan te bring.
By die Langeberg Mall-afrit vanaf die N2 word 'n sirkel beplan om verbeterde verkeersvloei vanaf die deurweg te verseker, asook alternatiewe toegange na die winkelsentrum via Depotweg om opeenhopings te voorkom. Namate die projek vorder, sal die gemeenskap van verwikkelinge, onder meer die waarskynlikheid van stop/ry-verkeer, ingelig gehou word.
Altus Eitner van die munisipaliteit se paaie, vervoer en stormwaterafdeling verduidelik die onderskeie fases in die voorgenome opgradering.
Altus Eitner (regs), verantwoordelik vir beplanning, konstruksie en instandhouding in die munisipaliteit se paaie, vervoer en stormwaterafdeling verduidelik die onderskeie fases in die voorgenome opgradering van Louis Fourieweg aan die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee (links) en die waarnemende uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé.
'n Bekende, dog frustrerende situasie wat motoriste op Louis Fourieweg toenemend in die gesig staar. Foto: Steve D'Elboux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'