Video
MOSSELBAAI NUUS - Met AfriForum Mosselbaai se takvergadering wat Dinsdag, 15 November by Laerskool Hartenbos se skoolsaal plaasgevind het, het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum uitgebrei oor die steeds groeiende outonomie van die Wes-Kaap. Hy het ook gesels oor AfriForum se strewe om die gedeeltelike selfbestuur verder uit te brei.
Kriel het verduidelik dat groeiende outonomie nodig is om 'n federale bestel te vestig.
In November 2020 by die Suidelike-takke van AfriForum se beraad in Knysna, is die beleidsbeginsel van groeiende outonomie in 'n eenparige mosie aanvaar. 'n Voorlegging by hul AfriForum kongres verlede maand is die beginsel ook aanvaar.
"Magte moet van die sentrale regering afgewentel word sodat gemeenskappe hulle eie besluite kan neem oor sake soos onderwys, gesondheid, polisiëring en plaaslike regering.
"Dit gaan nie maklik in Suid-Afrika gebeur nie. Ons moet self die pad na selfbeskikking vind," verduidelik Kriel.
Volgens Kriel moet die Wes-Kaap en is hulle alreeds besig om sekere van hierdie funksies oor te neem, sonder om aan die regering se deur te klop om so 'n federale stelsel af te wentel na plaaslike regeringsvlak.
"'n Voorbeeld hiervan is buurtwagte. Funksies van die staat soos veiligheid en beskerming van die gemeenskap word deur die gemeenskap en ander rolspelers in 'n mate oorgeneem."
Kriel het by die vergadering verwys na AfriForum se Mosselbaai-tak wat onder leiding van Louis Cook, reeds in die proses is om baie funksies van die owerheid oor te neem.
VIDEO: Groeiende outonomie in die Wes Kaap
Fondse vir veiligheid
In AfriForum Mosselbaai-tak se finansiële verslag wat tydens die vergadering voorgelê is, word 50% van hul fondse aangewend vir veiligheid.
"Die feit dat gemeenskappe self beheer begin neem oor hul veiligheid, asook ander projekte soos bome wat geplant word, bankies om parke te verfraai is nie staatkundige federalisme nie, maar 'n teken dat gemeenskappe self begin beheer neem," sê Kriel.
"Ons sal die proses egter moet versnel, want dinge in die land gaan vinnig agteruit."
Kriel gaan verder deur te sê dat een van Suid-Afrika se groot probleme. is sosialisme en sentralisme.
"Geld in die vorm van belasting en ander word na die sentrale regering oorbetaal en dan na van die geld gesteel is, word dit traag afgewentel na provinsiale vlak."
Kriel sluit af deur 'n skets te vertoon van 'n plank halfpad oor 'n afgrond. Aan die afgrond kant staan 'n man (die regering) en aan die ander kant op vaste grond die gemeenskap wat ook op die plank staan. Die man wat op die plank staan sê: "Ons gaan dit nooit toelaat nie".
"Maar die hele stelsel word instand gehou deur die mense wat aan die anderkant van die plank staan. En dis wat ons wil hê. Ons wil nie op die ANC se plank staan nie. Ons is nie geweldenaars nie. Ons is mense van vrede, maar ons kan sê dis wat ons wil hê en ons stap van die plank af."
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van Afriforum.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'