MOSSELBAAI NUUS - Hierdie jaar is die Dias- & Portfees op Mosselbaai gans anders; dit is groter, steeds gratis en sluit ook die ganse hawe as feesterrein in.
Boonop kan feesgangers opwindende nuwe elemente by die fees verwag wat nog nooit tevore deel van hierdie beproefde wenresep was nie.
Die fees gaan werklik iets vir almal bied, van optredes deur Suid-Afrika se voorste musiekkunstenaars, onder meer Kurt Darren van Kaptein-faam, Emo Adams met sy Take Note Band, Loukmaan Adams, Jo Black, ADAM, Charlize Berg, Manuel Escorcio, DJ SK, Mafikizolo, gospelsanger Neville D en meer.
Daarbenewens gaan die keur van plaaslike kunstenaars saam met die groot sterre seker maak dat feesgangers by die twee feesverhoë kwaliteitvermaak kan geniet.
Die Dias- & Portfees is die enigste fees waar kunstenaars van hierdie gehalte en verskeidenheid gratis te siene is vanaf 1 tot 4 Februarie.
Hawe-program
Dis egter by die Mosselbaai-hawe, vanjaar vir die eerste keer deel van die Diasfeesverrigtinge, dat aksie en adrenalien vir feesgangers behoorlik deel van die pret gaan wees.
Van visvangkompetisies op die breekwater, sleepbootritte vanaf die Vintcentkaai, tot die gebrul van Harley Davidsons en Jeep Wranglers en 'n visbraaikompetisie by die immergewilde Kaai 4-restaurant; daar is iets vir almal.
Bekom dus vroegtydig 'n feesprogram.
Die immergewilde programhoogtepunte by die Santosfeesterrein sal steeds 'n groot aantrekking wees.
Oudergewoonte sal die valskermspringers met die groot landsvlae op Santosstrand land, en sal die laservertoning by die Santos-feesterrein asemrowend wees, maar besoek gerus die hawe vir die dinghy-seiljagwedvaart, vir die NSRI se uitstalling en vir die motorklankkompetisie (dit vind plaas op Kaai 4 net buite die uitstalarea).
Verruklike danse deur internasionale deelnemers sal weer 'n gewilde item op die feesprogram wees.
Kulture ontmoet
Die feestema, soos altyd, is "waar kulture ontmoet" en 'n groot afvaardiging van internasionale verteenwoordigers sal aan die fees deelneem.
Skouspelagtige danse, oempah-orkesklanke en ander vertonings gaan 'n besoek aan die fees die moeite loon.
Die gewilde straatoptog gaan vanjaar ook met nuwe deelnemers spog wat elk om 'n prys as die beste vlot gaan meeding.
Hierbenewens gaan die talle stalletjies, beide by die Santosfeesterrein en op die hawe heelwat te eet en drink, asook aandenkings, aanbied.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'