KLEIN BRAKRIVIER NUUS - Met Covid-19 het misdade soos inbrake by huise, inbrake uit voertuie en winkeldiefstal toegeneem, veral toe die inperkingsvlakke verlaag is en die publiek meer kon rondbeweeg.
Dit het veroorsaak dat hierdie misdade wat voorheen nie altyd aangemeld is nie, nou eskaleer, veral omdat die gemeenskap onder erge finansiële druk geplaas is.
Wat egter verlede week in Klein-Brakrivier kop uitgesteek het, laat die wenkbroue behoorlik lig oor wat skelms nog sal aanvang om so 'n ekstra geldjie te verdien.
Volgens Deon Carstens, wat namens die eienaar van 'n eiendom gereeld by die perseel op die hoek van Malherbe- en Van der Rietstraat 'n draai gaan maak, het die mense gras op die sypaadjie, op die erf, asook op die paadjie wat na die treinbrug gaan, uitgehaal.
Tydens Carstens se besoek aan die eiendom die volgende dag het hy die diefstal van die gras opgemerk.
Vissermanne het hom meegedeel dat hulle die vorige dag manne met 'n kruiwa en 'n voertuig daar gesien het. Toe hulle die mense konfronteer en vra wat hulle doen, het hulle glo net gesê: "Ons is die grasmanne."
Die eienaar van die perseel het die munisipaliteit per e-pos van die diefstal verwittig en 'n plaaslike sekuriteitsmaatskappy gevra om vir die "grasmanne" op die uitkyk te wees.
Die moontlikheid bestaan dat die verdagte mans dalk plaaslik of van elders afkomstig is en dat hulle die gras óf verkoop, óf moontlik gebruik by 'n ander woning waar hulle vermoedelik tuindienste verrig.
"Ek kan nog verstaan as hulle hier in die paadjie gras uithaal. Selfs langs die paadjie is 'n ander saak, maar wragtig om binne 'n man se erf te kom uithaal," vertel Carstens. "As mens dit nie nou stop nie, gaan dit by al die erwe gebeur."
Op die paadjie wat na die treinbrug lei, het die diewe ook van die gras uitgehaal. Foto's: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Klein Brakrivier, Tuinroete nuus'