Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Vanjaar se burgemeesterstee, die eerste van 'n reeks geleenthede wat in verskillende areas in die groter Mosselbaai aangebied word, het 'n hanetreetjie vanaf die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal se kantoor, by die Onse Rustehuis in Hoogstraat, Mosselbaai afgeskop.
Hierdie eerste byeenkoms is op Maandag, 14 November gehou.
Die burgemeester het verlede jaar dié unieke geleenthede, om in aanloop tot die Kerstyd tee met seniors in die Mosselbaai-area te geniet, ingestel.
Die teepartyjies is in die verskillende wyke gehou en die betrokke wyksraadslede is ook betrek.
Die seniors was aanvanklik 'n bietjie terughoudend in raadsheer Levendal se teenwoordigheid, maar die ACVV Seebries-tehuise se aktiwiteitskoördineerder, Joey Huysamen het gou die gaste aangemoedig om te ontspan.
Die uivoerende onderburgemeester, Dirk Kotzé het gesê hy sal bekommerd wees as hy namate hy ouer word, stiller moet word, want as politikus is hy gewoond daaraan om baie te praat. Raadslid Anton Dellemijn was ook teenwoordig.
Raadsheer Levendal het rondgestap en die inwoners hartlik gegroet. "Ons baklei oor jou," het een van die vroue gesê. "Ja, ek sien hoekom! Daar's slegs twee mans hier rond," het hy gekorswel.
"Vertel 'n grappie vir die burgemeester," het Huysamen die seniors aangemoedig, waarop een van die vroue vinnig reageer het.
Aangesien raadsheer Levendal deur sy ouma en oupa grootgemaak is, het dit by hom 'n verlange geskep om ouer mense te help, het hy verduidelik.
Hy het vertel dat hy as jongman graag 'n sjokolade by die winkel gekoop het om vir 'n senior burger te gee.
Die oues het smaaklike versnaperings, met komplimente van die burgemeester, geniet.
Hy het dit ook as rede voorgehou waarom die burgemeesterstee tans in die bestaande formaat aangebied word.
Nóg partyjies sal, onder meer, by seniors in KwaNonqaba, Hartenbos, Groot Brak, Joe Slovo, D'Almeida en Sonskynvallei plaasvind.
ARTIKEL & FOTO'S: LINDA SPARG, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'