MOSSELBAAI NUUS - Die munisipaliteit het nie die verhoogde pryse vir begrafnisse met die gemeenskap, óf die kerkleiers, óf die begrafnisondernemers bespreek nie. Dit blyk uit 'n dringende vergadering met kerkleiers en verteenwoordigers van die onderskeie begrafnisondernemers op Maandag, 16 Julie wat beroep is deur raadslid Dawid Kamfer (Icosa).
Die betrokke verteenwoordigers het 'n beroep gedoen dat geestelike leiers en begrafnisondernemers oor hierdie kwessie sal hande neem en in 'n gesamentlike front terugvoer aan die munisipaliteit sal gee dat die drastiese verhogings nie vir die gemeenskap aanvaarbaar is nie.
"Die verhoogde grafpryse raak almal in die gemeenskap, ongeag kleur of politieke affiliasie, en daar moet dringend herbesin word oor die rasionaal vir die verhoging. Die gemeenskap moet ingelig word waarom daar so 'n drastiese verhoging goedgekeur is sonder dat enige lid van die publiek - en skynbaar selfs die raadslede - nie daarvan bewus was nie." Dit was die mening van kerkleiers.
Krisiskomitee en petisie
'n Krisiskomitee is saamgeroep om dringend met die munisipaliteit oor die aangeleentheid te skakel.
Raadslid Kamfer het gesê dat Icosa reeds 'n dringende mosie ingedien het sodat die probleem tydens die volgende maandelikse raadsvergadering op Donderdag, 26 Julie bespreek moet word.
Die munisipaliteit het in 'n persverklaring aangedui dat 'n dringende, spesiale raadsvergadering sal plaasvind om oor die gemeenskap se ongelukkigheid oor die verhogings te besin.
Die Krisiskomitee het gevra dat die gemeenskap deur 'n petisie en protesoptog hul misnoeë met die probleem onder die aandag van die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee bring. Raadslid Kamfer is gevra om 'n dringende aansoek vir 'n optog vandag, Dinsdag 17 Julie, in te dien.
Van die verteenwoordigers het die stelling gewaag dat die verhoging in grafkoste van raadslede weerhou is. "Nie in een van die openbare vergaderings oor die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan het die kwessie van dié verhogings ter sprake gekom nie. Waarom het wyksraadslede die gemeenskap nie ingelig nie - was die raadslede self nie bewus van die verhogings nie? Indien nie, hoekom nie? Hoe kon die DA-meerderheid summier drastiese verhogings wat die middelklas die hardste gaan slaan, goedkeur?"
Verskeie kerkleiers en verteenwoordigers van plaaslike begrafnisondernemers het hul kommer oor die drastiese verhoging in grafpryse gelug. Foto: Nickey le Roux
Gemeenskapsleiers het ook vrae gevra oor die prosesse wat bydra om grafkostes te verhoog, onder meer dat die familie skynbaar nie toegelaat word om self grafte te grawe nie, en dat dubbelgrafte nie vir deernisgevalle beskore is nie.
"Daar is 249 kerke, daar is 'n Ekumeniese Forum, daar is talle begrafnisondernemers wat daagliks begrafnisdienste moet hanteer. Nie een van hierdie belangegroepe is spesifiek vooraf oor hierdie drastiese verhogings gekonsulteer nie.
Om te sê 'n konsepbegroting lê ter insae vir openbare deelname, sonder dat 'n kwessie soos hierdie spesifiek benadruk en toegelig word, maak 'n gekkespul van beide raadslede en die gemeenskap.
Die gewone inwoner is deeglik ingelig oor verhogings in munisipale dienste soos water, vullisverwydering en elektrisiteit. Die spesifieke persentasie-verhogings daarvoor is gekommunikeer.
Hoekom is hierdie drastiese, onmenslike verhoging wat veral die middelklas hard gaan slaan, nooit beklemtoon nie?"
Lees 'n verwante artikel: Vergadering oor verhoging van grafpryse
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'