MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai munisipale raad het die hoop uitgespreek dat 'n privaat entrepreneur 'n krematorium op die terrein van die nuwe begraafplaas langs Louis Fourieweg sal ontwikkel om voorsiening te maak vir verassing, veral gegewe die drastiese styging in die koste per graf vanaf 1 Julie. Verassing, daarenteen, is 'n aansienlik goedkoper opsie.
Grafkostes moes noodwendig styg om die kapitale koste te verhaal wat aangegaan is om die nuwe begraafplaas te ontwikkel. Die verhoogde koste verteenwoordig die werklike koste om 'n graf beskikbaar te stel.
'n Graf wat tot en met 30 Junie slegs R873, BTW ingesluit, beloop het, kos vanaf 1 Julie daarenteen R5 278. Hierdie koste verwys na grafte wat vooraf bespreek en betaal is. Soos met alle tariewe, word begrafniskoste jaarliks aangepas. Hierdie koste sluit egter die grawe van die graf uit. Om 'n enkel graf te laat grawe, sal 'n verdere R1 157 beloop vir 'n volwassene. Kindergrafte se kostes in hierdie verband is minder en beloop R918. Daarenteen sal 'n dubbele graf teen R1 686 gegrawe kan word.
'n Graf in 'n nismuur daarenteen sal R151 beloop, wat verassing gevolglik 'n drasties goedkoper opsie maak.
'n Permit om 'n volle grafsteen op te rig in Mosselbaai sal voortaan R706 beloop, hoewel dieselfde permit in die Hartenbosbegraafplaas aansienlik meer bekostigbaar teen R260 is.
Deernisgevalle
Die raad het egter deernisgevalle tegemoet gekom. Die grafkoste vir 'n persoon wat as 'n deernisgeval geregistreer is, beloop voortaan R249. Dit het verhoog vanaf R237.
Begrafnistariewe, soos enige ander tariewe wat deur die munisipaliteit gehef word, word onderwerp en is oopgestel vir openbare deelname.
Hoewel die 2018/2019 munisipale begroting vir etlike maande vir openbare kommentaar by biblioteke en munisipale kantore beskikbaar was, het die munisipaliteit geen openbare insette ontvang nie. Die tariewe is gevolglik deur die raad aanvaar.
* Lees Raadslid Dawid Kamfer (Icosa) se persverklaring oor die verhoogde grafkoste op bladsy 7 in vandag se Mossel Bay Advertiser.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'