MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Aliyah Speelman speel beslis nie as dit by spel kom nie.
Hierdie graad 2-leerdertjie van St Blaize Primêre Skool is tans onder die top 5 in 'n nasionale spelkompetisie.
Die opvoeder wat haar afgerig en vergesel het na die nasionale ronde van die WOW-spelkompetisie in Stellenbosch wat aan die einde van Oktober gehou is, Michelle Groenewald, verduidelik presies hoe goed Aliyah vanjaar gevaar het. Nadat sy in haar graad 1-jaar reeds belofte getoon het, het sy tot op by die distriksronde gevorder. Vanjaar het Aliyah seker gemaak dat sy só verbeter, dat sy 'n verdere twee rondes vorder tot by die nasionale kompetisie. Sy was die enigste verteenwoordiger in haar kategorie uit Mosselbaai wat aan die finale ronde deelgeneem het en het teen 36 leerders in haar groep meegeding.
Kyk 'n video hieronder.
Die hoeveelheid woorde wat die graad 2-deelnemers moet baasraak, is 300. Volgende jaar se kwota vir graad 3, is 390. Wat verbasend is, aldus juffrou Groenewald, is dat Aliyah eers uitgeval het toe daar woorde op graad 5-vlak gespel is. Aliyah sê sy was baie op haar senuwees tydens die nasionale kompetisie. En wat het sy gedoen om die senuwees te laat bedaar? "Ek het gebid," antwoord sy.
Aliyah Speelman tydens die nasionale en finale ronde van die WOW-spelkompetisie.
Sy sê haar ma en pa het haar baie gehelp om vandag so oulik te kan klank en spel. Juffrou Groenewald beaam dit. "Sonder die ouers se hulp, sou ons nie aan hierdie kompetisie kon deelneem nie." Die woordelyste word glo aan die begin van die jaar beskikbaar gestel. "Met 'n vol skooldag, kan ons eers aan die einde van die dag aan die woorde begin oefen."
Juffrou Groenewald sê dat ter voorbereiding vir die kompetisie, opvoeders veral daarop fokus om kalmte en selfvertroue by die leerders te vestig. Sy sê Aliyah is besonder kalm wanneer sy haar woord kry om te spel.
"Ek dink sy het baie geleer met haar deelname in Stellenbosch. Ek het vir haar gesê om haar net te verbeel dat sy in haar eie omgewing is. 'n Kind is maar 'n kind. Die ander deelnemers kon net sowel haar klasmaats gewees het."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'