MOSSELBAAI NUUS - Familie van Christiaan Lucas (46) weet een ding vir seker. Dat hy 'n wonderwerk is na sy onderonsie met Covid-19.
Christiaan, vader van vyf kinders, 'n pastoor en drywer verbonde aan die Piet Julies MIV/VIGS-aksiegroep was volgens sy vrou Marchelene, "vir 20 dae dood".
Lucas het vermoedelik die virus opgedoen deur kontak met sy boesemvriend wat slegs simptome getoon het en eers later met die virus gediagnoseer is. Toe hyself sy eetlus begin verloor en daarna toenemend erge laerugpyn begin ervaar, het Christiaan 'n dokter besoek.
"Die dokter het medikasie voorgeskryf en my man ingespuit waarna ons hom huis toe geneem het. Vandaar, volgens hom, kon hy eintlik niks onthou wat verder gebeur het nie."
Op 30 Julie is Christiaan met Covid-19 gediagnoseer. Marchelene het haar man vir eers tuis versorg.
Dit was egter kommerwekkend, meen sy dat hy skaars sy mond kon oopmaak. "Ons moes hom voer en was." Op 1 Augustus omstreeks 22:15 het sy toestand dramaties versleg, in so 'n mate dat hulle hom na die hospitaal moes haas. "Sy voete was ysig koud tot by sy knieë. Hy is met aankoms by die hospitaal dadelik in intensiewe sorg opgeneem en geventileer."
Na haar man se opname, het Marchelene met kinders en al terug na haar ouerhuis getrek. "Ek kon nie sonder hom by die huis regkom nie. Saam met my ouers het ons net dadelik en volkome op God vertrou vir genesing. Nie net moes ons God vertrou vir 'n deurbraak om my man te genees nie, maar ook vir 'n finansiële deurbraak omdat ons nie medies of eens 'n hospitaalplan het nie."
Kort na haar man se opname, ontvang Marchelene 'n oproep dat daar min hoop is dat hy sal oorleef. Weer is daar intens gebid.
Christiaan is vir 17 dae geventileer en het op die 17de dag in Life Bay View privaat hospitaal wakkergeskrik. "God het Sy hand bewys," glo Marchelene.
Hierna is hy oorgeplaas na die George provinsiale hospitaal. "Dit was om vir ons finansieel bietjie verligting te bring." Maar ten spyte hiervan, was daar weer 'n terugslag. Christiaan kon nie opstaan en loop nie.
"Ons het net weer op ons knieë teruggeval. Ons kon nie aanvaar dat God hom gespaar het om hom aan ons as 'n invalide terug te gee nie." Nog meer gelowiges is by die gebedsaksie betrek en op 24 Augustus is bevind dat Christiaan nie verlam is nie, maar slegs erg verswak was.
"Alle eer en lof aan die Here wat steeds, uitgeteerde liggaampie en al, Christiaan aan ons teruggegee het. Ons lag en huil saam oor die 20 dae wat hy vir ons dood was."
Sy praat net met lof van al die mediese personeel by Life Bay View privaat hospitaal, George provinsiale hospitaal en Vidamed-daghospitaal, asook fisioterapeute wat gehelp het om haar man se lewe te help red. Ook elke mens wat ondersteuning gebied het deur gebed, noem sy so te sê by die naam.
Marchelene sê sy en haar man is nou nader aan mekaar as ooit. "Ek wil vir mense sê Covid-19 is 'n werklikheid. As jy dink dis net 'n verkoue, skrik asseblief wakker."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'