MOSSELBAAI NUUS - Die Rauch Gertenbach-stigting bied op Saterdag, 26 Augustus 'n Winter Wonderlandbal aan.
Die glansgeleentheid vind in die Mosselbaai-stadsaal plaas en die geld wat ingesmale word, gaan aan die ACVV Kenani.
Rauch Gertenbach Prokureurs is al vir baie jare nou betrokke by ACVV Kenani ten opsigte van regsverteenwoordiging en maandelikse ondersteuning vir verskeie projekte. Dit het onlangs onder hulle aandag gekom dat ACVV Kenani, anders as in die verlede, deesdae minimale staatsubsidies ontvang en die besluit is geneem om hierdie welwillendheidsprojek ten gunste van die ACVV Kenani aan te pak. Daar word beoog om R25 000 met die geleentheid in te samel.
ACVV Kenani is 'n dienssentrum wat in Mosselbaai geleë is. Die dienste wat aangebied word aan senior burgers is onder andere kliniekdienste, aflewering van daaglikse etes en die geleentheid om op Vrydae by die sentrum in te skakel vir 'n aktiwiteitsprogram.
Daar is ook behuising op die perseel wat veilig en gerieflik vir die inwoners is.
Die Rauch Gertenbach-stigting het in 2016 ontstaan nadat die direksie van Rauch Gertenbach Prokureurs 'n besluit geneem het om behulpsaam te wees om die nood in Mosselbaai te verlig. RG is reeds vir etlike jare betrokke by welwillendheidsorganisasies regoor die land.
Die behoefte in Mosselbaai is egter baie groot en die stigting is op die been gebring om spesifieke behoeftes in die onmiddelike omgewing en gemeenskap aan te spreek.
Hoewel ACVV Kenani op hierdie stadium die stigting se welwillendheidsorganisasie van keuse is, word ander organisasies en individue ook bygestaan.
Kaartjies vir die Winter Wonderlandbal is beskikbaar by Christine (044 601 9900 of christine@rgprok.co.za) teen R300 per persoon. 'n Kontant kroeg sal beskikbaar wees en dit is die ideale geleentheid om die aandrokke en pakke uit die kas te haal. Indien individue of instansies graag 'n bydrae wil maak in die vorm van kontant of bestanddele vir die aand, kan Junene gekontak word (044 601 9900).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'