MOSSELBAAI NUUS - Zainodien-Cedric Whittaker is 'n aanwins vir die Mosselbaai-biblioteek waar hy tans werksaam is. Dít is al sy kollegas eens.
Zainodien of CJ soos almal hom ken, is egter net in 'n tydelike posisie danksy 'n werksgeleentheid wat hy deur middel van die uitgebreide openbare werke-program (EPWP) ontvang het.
Die EPWP-program het ten doel om vir 12 maande werk te verskaf aan alle Suid-Afrikaanse burgers wat werkloos is. By die Mosselbaai-munisipaliteit, val hierdie program onder die afdeling vir sosiale ontwikkeling.
"Die beleid is dat twee werkloses van die Haven-nagskuiling aangestel word. Hulle word 'n salaris betaal en kry voordele soos werkloosheidsversekering, asook opleiding."
CJ is besonders dankbaar vir hierdie werksgeleentheid.
Wanneer jy met hom gesels, besef jy dat om te kan werk, vir hom kernbelangrik wat sy persoonlike welsyn betref. Nie soseer omdat hy 'n salaris verdien nie, maar omdat dit hom menswaardig laat voel.
Nuwe begin
CJ vertel dat hy al voorheen in 'n nagskuiling soos die Haven op Mosselbaai 'n tuiste moes vind.
Maar vir hom, is dit allermins 'n doodloopstraat.
Wat hy propageer, is dat die nagskuiling 'n plek is waar hulp bekom kan word om jou lewe weer op koers te kry.
CJ meen dat niemand gebore word met die vooruitsig om 'n mislukking te wees nie. Hy sê egter ook dat mense, wanneer hulle in onbenydenswaardige omstandighede beland, die verantwoordelikheid het om sélf te wil verander.
"Die Haven is 'n plek waar jy jou lewe kan restart.
"Baie mense wat op straat woon sien net reëls waarby hulle nie wil aanpas nie, maar hulle is verkeerd.
Die Haven kan 'n wegspringblok wees om oor te begin."
Vir CJ was dit beslis so. Hy glo egter ook, dat die gemeenskap dikwels onregverdig is oor hoe hulle mense oordeel, veral diegene wat op straat en in 'n nagskuiling beland.
"Ek glo vas dat niemand in 'n shelter wil wees nie.
"My ervaring is, dat baie mense wat in 'n nagskuiling beland wíl werk. Hulle wil iets verdien, maar word geëtiketeer as 'n gemors of 'n rubbish. In meeste gevalle is dit nie so nie. There are always two side of a coin."
CJ self, het in Athlone, Kaapse as aangenome kind grootgeword. Hy het sy biologiese ouers nooit geken nie en sy huislike omstandighede, hoewel daar goeie sorg was, het warmte ontbreek. Hyself, het as kind met sy gesondheid gesukkel en hy was baie menssku.
Hy vertel dat hy erge woede as kind begin ervaar het en dat dit 'n vernietigende effek op sy lewenspad gehad het.
Danksy hulp wat hy ondermeer by nagskuilings gevind het, het hy sy lewenspad en ook sy misplaaste woede in perspektief kon stel.
Tans, gaan dit goed met CJ. Hy het sy eie verblyf en hy is selfstandig. Sy kontrak by die biblioteek verval in Junie.
CJ reken wat in sy geval die deurslaggegee het, is dat hy wíl werk en ook nuwe vaardighede met gemak aangeleer het. Hoewel sy kontrak einde se kant toe staan, het hierdie kenmerke veroorsaak dat 'n nuwe pos in die privaatsektor reeds vir hom wink.
"Ek wil niks anders doen nie. Ek wil werk totdat ek omval van ouderdom.
"Wat my hoop gee vir môre, is dat ek êrens heen kan gaan waar ek produktief kan wees."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'