MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers het die afgelope week brandende vrae gehad te midde van die uitbreek van die koronvirus, spesifiek wat betref die voorkoms daarvan in die dorp en omstreke.
Die gegis het ontstaan na aanleiding van 'n stemnota wat gesirkuleer is, asook verskeie ander gerugte van gevalle waar pasiënte postief vir die virus getoets is.
Daar was ook sprake dat 'n gesondheidswerker of werkers in isolasie was nadat hulle in aanraking was met pasiënte wat vir die virus getoets moes word.
Navrae is onverwyld aan die Wes-Kaapse departement van gesondheid gerig, waarop Nadia Ferreira van die departement, soos volg geantwoord het: "Weens pasiënt vertroulikheid kan ons nie inligting oor pasiënte weergee nie. Indien en waar personeel blootgestel word aan die virus waar dit nodig vir hulle is, soos deur nasionale protokol, om te self-isoleer sal dit gedoen word. Indien iemand in self-isolasie is - is dit sodat die breër publiek beveilig word en die verspreiding van enige soort virus bekamp kan word. Ons vra die publiek om diegene wat in isolasie is te ondersteun deur hulle gereeld te bel."
Verskeie pogings aangewend
Die Mossel Bay Advertiser is voorts deur die departement aangeraai om pasiënte wat postief vir die virus getoets het, persoonlik te probeer kontak. Die Advertiser het vandeesweek verskeie pogings aangewend om met individue wat die virus plaaslik onder lede het, kontak te maak.
'n Ingeligte bron, wat verkies om anoniem te bly het bevestig dat 'n vrou van Gauteng wat in Mosselbaai vir haar suster en 'n tante kom kuier het, wel positief getoets is vir Covid-19. Die vrou, in haar vyftigs, het op Vrydag, 13 Maart vanaf OR Tambo na George internasionale lughawe gevlieg. "Op die vlug, is sy blootgestel aan iemand wat later positief vir die virus getoets het," berig die bron. Na haar aankoms, is die vrou deur die gesondheidsowerhede gekontak en het sy 'n Covid-19-toets gehad. Op Vrydag, 20 Maart is bevestig dat sy wel die virus onder lede het.
"Sy is in tuiskwarantyn geplaas saam met haar suster en tante. Nie een van die ander twee vroue, is tot op hede met die virus gediagnoseer nie, hoewel die tante tans 'n gewone grieperigheid het." Die bron het bevestig dat gesondheidsowerhede die familie deurgaans monitor en dat hulle intussen weer vir die virus getoets is.
Die familie het egter nie kans gesien om 'n onderhoud aan die Advertiser toe te staan nie.
Die Advertiser het Woensdag navraag gedoen oor die jongste syfers aangaande die Covid-19-virus se teenwoordigheid aan die Tuinroete.
Teen druktyd, 25 Maart om 20:11 was die bevestigde getalle vir die Wes-Kaap soos volg: Kaapstad - 143; Kaapse Wynland - 9; Overberg - 5; Tuinroete -12. 'n Verdere vyf bevestigde getalle bestaan, waarvan die spesifieke streek nog nie geallokeer was nie.
• Indien enige persoon wat positief vir die Covid-19-virus getoets is, graag hulle storie wil deel, stuur 'n WhatsApp na 082 338 4364 of stuur e-pos na cornelle@groupeditors.co.za
Mosselbaaiers was vandeesweek merkbaar bekommerd oor die teenwoordigheid van die koronavirus op Mosselbaai. Om gereeld deeglik hande te was, is 'n belangrikke voorsorgmaatreël om verspreiding van die virus te bekamp. Foto: Jan Koekemoer
Mosselbaaier Bronwyn Jack vertel dat sy nie haar huis verlaat sonder om haar masker te dra nie. Dit is beter om voorsorg te tref. Sy sê sy is gereed vir die totale isolasie wat om middernag in werking getree het. Hier is sy by Jennifer McCormering en Atenkosi Mposwa. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'