MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Met die feesseisoen wat verby is en Januarie wat al fluks aan die beweeg is, kan daar met groot dankbaarheid terug gekyk word na ‘n besondere suksesvolle Desember 2022 by die Mosselbaai-gholfklub.
Nie net was ons geseën met heerlike reën nie, maar weer eens was Mosselbaai-gholfklub ‘n besonderse bestemmingsoord vir talle lede en besoekers.
Van vroegoggend tot sononder het hulle teenwoordigheid gehelp dat ons almal ‘n wonderlike vakansietyd kon beleef.
Die 6 285 rondes gholf wat in Desember gespeel is, het die aantal rondes vir 2022 tot 52 017 laat styg, ‘n prestasie wat nog nooit in die klub se geskiedenis bereik is nie. Dankie aan al die gholfers, personeel van die verskillende afdelings en raadslede wat hierdie prestasie moontlik gemaak het.
Gedurende die vakansie is daar op ‘n gereelde basis kompetisies op Woensdae en Saterdae aangebied. Dit was opmerklik dat ons besoekers gereeld onder die pryswenners was. Dit is duidelik dat hulle ons baan ten volle geniet en as verbruikers-vriendelik ervaar het.
Woensdag
Die nuwe jaar het op Woensdag, 4 Januarie afgeskop met ‘n beterbal stablefordkompetisie. Die plaaslike manne het behoorlik hulle vere reggeskud en op 45 punte het Anton Izaakse (senior) en oud-Mosselbaai-lid, Pierre Smuts, eerste oor die wenstreep geseil.
Maklik het dit egter nie gegaan nie, want die uittel-proses het bepaal dat Wouter Kotzé en Div de Villiers die naasbestes was. Koos van Niekerk en Arnold Griesel se verdienstelike 44 punte het hulle in die derde plek geplaas. Stefan van Vuuren en Danie Viljoen (43 punte) asook Chris Brits en Ferdie Jonck (41 punte) het die oorblywende plekke gevul.
Saterdag
Op Saterdag, 7 Januarie het Koos van Niekerk en sy skoonseun Arnold Griesel, voortgebou op hulle goeie vorm en op 46 punte het hulle die eerste plek ingepalm in die beterbal stablefordkompetisie. Die uittel-proses moes sy loop neem om die ander plek-wenners te bepaal.
Die pa-en-seun kombinasie van Sakkie en Morné Morris (46 punte) het die tweede plek voor die twee broers, Joelie en Jannie Erasmus weggeraap. Johan de Swardt en Gert Pieterse (46 punte) het ook hulle stemme dikgemaak en voor Danie van Zyl en Blommie Blom die prystafel betree. Noël Hudson het ook die nuwe jaar goed afgeskop deur op die 4de putjie sy derde kolhou van sy gholfloopbaan te behaal. Veels geluk Noël.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'