MOSSELBAAI NUUS - Twee persone het die afgelope naweek in geweldsmisdaad omgekom in die Da Gamaskop-polisie se bedieningsarea, spesifiek die misdaadgeteisterde Joe Slovo-woongebied.
Volgens inligting verskaf deur die polisie, het die eerste voorval op Vrydag, 9 Februarie plaasgevind.
Die liggaam van Louvuyu Sneli (21) is deur kst Ludumo Dyasi gevind toe hy in B Ntakastraat patrolliedienste verrig het. Sneli is met 'n skerp voorwerp in die maag gesteek. 'n Drie-en-dertigjarige verdagte is in verband met sy dood in hegtenis geneem.
Die saak word ondersoek deur kst Nelly Manyhonta.
In die tweede voorval wat op Saterdag, 2 Februarie plaasgevind het, is die liggaam van Zandisile Blaauw (27) om 08:00 langs Charles Tavern in die Joe Slovo-woongebied gevind. Hy het noodlottige kopwonde opgedoen.
Geen verdagtes is in verband met die voorval aangekeer nie. Die saak word ondersoek deur sers Deothine Vaas van die Da Gamaskop-speurafdeling.
Die stasiebevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiestasie, kol Mark Hartzenberg het weereens die gemeenskap gemaan om nie oor te gaan tot geweld nie.
"Die Da Gamaskop-polisiestasie beskik oor 'n traumakamer waar beraders beskikbaar is om lede van die gemeenskap by te staan om probleme of geskille op te los. Buurtwagte is ook aktief in probleemareas en sal hulp verleen wanneer hulle versoek word," sê kapt Wollie, die kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'