MOSSELBAAI NUUS - Twee sake van gewapende roof is die afgelope naweek by die Da Gamaskop-polisiestasie aanhangig gemaak. Tydens die eerste voorval op Saterdag, 7 Desember het 'n 49-jarige vrou en haar man om 22:20 by 'n winkel op Mosselbaai gestop.
Die man het goedere in die winkel gekoop terwyl die klaer alleen in die voertuig gesit het. Sy is deur drie mans genader, wat die voertuig se deur oopgemaak en haar handsak gegryp het.
Polisiewoordvoerder, kapt Wollie Fourie sê die slagoffer het haar teen die roof verset en is in die proses in die gesig geslaan.
"Haar man het uit die winkel gekom en is met 'n vuurwapen en piksteel aangerand waarna die verdagtes weggehardloop het." Die vrou se selfoon en beursie ter waarde van R3 500 is gesteel. Nog geen verdagtes is in hegtenis geneem nie. Die saak word ondersoek deur ao Juanita Burger (044 606 2200).
JCC-woongebied
In die tweede voorval op Sondag, 8 Desember het die 39-jarige klaer om ongeveer 05:00, werkers by die JCC-woongebied opgelaai toe twee mans aan die venster geklop het. Volgens kapt Fourie het die klaer die venster afgedraai waarna die verdagtes hom met 'n vuurwapen gedreig en van sy selfoon beroof het.
Die saak word ondersoek deur sers Adele Binneman (044 606 2200). Positiewe inligting wat die polisie kan help om arrestasies te maak sal vertroulik hanteer en beloon word.
Louis Fourieweg/Diasstrand gevaargebied
Die polisie doen weer 'n beroep op inwoners en vakansiegangers om uiters versigtig te wees in die gebied op Louis Fourieweg vanaf Bolandpark tot die vulstasie by De Bakke. Dié gebied is veral gevaarlik vir drawwers, stappers en fietsryers en verskeie voorvalle van voetgangers wat hier aangeval en beroof is, is reeds aangemeld.
Volgens kapt Fourie het die polisie, in samewerking met buurtwagte 'n aksie geloods om die gebied met vierwiel-motorfietse te patroleer. Tydens die patrollies is 'n groep jong seuns voorgekeer en gesteelde goedere is in hul besit gevind. "Ons vra inwoners om ook hul besoekers te waarsku om nie langs Louis Fourieweg in hierdie gebied te draf, stap of fiets te ry nie. Die gebied by die rotse op Diasstrand langs Louis Fourieweg word ook as 'n gevaargebied beskou en moet liefs vermy word."
Man wat gedreig word hardloop die see in
'n Man van die JCC-woongebied in Mosselbaai moes die afgelope naweek vir sy lewe vlug nadat hy deur ontstoke inwoners gedreig is en met wapens gejaag is.
Volgens kapt Fourie het die slagoffer vanaf die JCC-woongebied in die rigting van Diasstrand gehardloop met die groep inwoners wat agterna is. "Hy het by Diasstrand in die see in gehardloop om van die mense af weg te kom. Na 'n tyd het die inwoners hom gelos en kon hy na veiligheid terugkeer."
Die omstandighede van die voorval is nie bekend nie en geen kriminele sake is by die polisie aanhangig gemaak nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'