MOSSELBAAI NUUS - 'n Egpaar wat sowat vyf jaar gelede na hul kleinhoewe by Aalwyndal verhuis het, is die onder jongste statistiek van 'gewapende rooftogte wat in die afgelope tyd in die groter Mosselbaai plaasgevind het.
Die egpaar, beide in hul vroeë sewentigerjare is op Donderdag, 17 Januarie om ongeveer 23:00 deur ses goedgeklede mans, wat met onder meer 'n handwapen gewapen was, in hul huis in Rooikatstraat oorval.
Die rowers het Afrikaans gepraat en hul gesigte was met klapmusse bedek.
Die rowers het vir sowat 'n uur die huis vir waardevolle besittings deursoek. Die eienaar is twee maal met die handwapen teen die kop geslaan en is later vir snywonde in die Life Bay View-hospitaal behandel. Sy eggenote het vir wonde aan haar arm en bene behandeling ontvang. Beide was deur die rowers vasgebind.
Die rowers het met verskeie plasmaskermtelevisies, rekenaartoerusting, kontant en waardevolle juwele ontvlug. Nadat die eienaar daarin kon slaag om hom los te woel en ook dit waarmee sy eggenote vasgemaak was kon verwyder, het die paar die alarm geaktiveer en na buite gegaan waar 'n familielid, wat in 'n nabygeleë woonstel op die kleinhoewe woon, hulle te hulp gesnel het.
Die gewapende reaksielid van 'n bekende sekuriteitsmaatskappy was eerste op die toneel , waarna ook buurtwaglede hul hulp aangebied en uiteindelik saam met polisielede van die Da Gamaskop-polisiestasie die area gefynkam het.
Die egpaar se seun, 'n gekwalifiseerde rekenaarspesialis kon daarin slaag om die polisie deur middel van die globale posisioneringstelsel (GPS) wat hy op sekere van die toerusting geaktiveer het, tot onder meer een van die iPhone-selfone wat tydens die voorval gesteel is, te lei. Die selfoon is uiteindelik langs die N2 opgespoor.
Die polisie is besig om alle leidrade op te volg. Volgens 'n polisiewoordvoerder, sersant Kapp, is geen arrestasies nog gemaak nie. Die ondersoekbeampte is sersant Adele Binneman.
Enige persoon met met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan die Da Gamaskop-polisiestasie kontak (044 606 2200).
Positiewe inligting wat die polisie in hul ondersoek behulpsaam kan wees, sal beloon word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'