MOSSELBAAI NUUS - Die KwaNonqaba-polisie ondersoek 'n klag van gewapende roof nadat twee mans op Vrydag, 21 September 'n vrou in haar huis in Danabaai met 'n handwapen gedreig en van 'n onbevestigde bedrag kontant en selfone geroof het.
Volgens bevestigde inligting het die twee mans, geklee in wat gelyk het soos munisipale oorpakke, omstreeks middagete per fiets by 'n huis in P Minorstraat opgedaag.
Hulle het navraag gedoen oor 'n boukontrakteur wat glo daar woon, maar is blykbaar ingelig dat hy nie tuis was nie. Hulle is opgemerk waar hulle nietemin na sy woonhuis gegaan het.
Die boukontrakteur se vrou was tuis en was na wat verneem word besig om die werksmense se lone voor te berei toe die twee verdagtes daar opdaag. Een van die mans se gesig was met 'n klapmus bedek. Die mans het die vrou met 'n onbekende kaliber handwapen gedreig en het met die kontant en selfone gevlug. Die slagoffer het sover bekend geen beserings tydens die voorval opgedoen nie.
Die ondersoekbeampte is adjudant-offisier Errol Barnard van die KwaNonqaba-polisie se ondersoekeenheid. Enige inligting oor die voorval kan aan ao Barnard (044 606 5600 of 082 4119680) deurgegee word. Die polisie mag positiewe inligting goed beloon.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'